Thursday 3 April 2014

tussen die lugholtes van my ribbes

dit is daar waar ek wil wees
daar waar kontinente van klank uit
my keel en vingers vloei
en ek aan 'n hele nuwe aarde geboorte gee

daar waar die magtige digkuns 
die ritme van die dag bepaal

ek voel alewig die klop in my keel
die nimmereindigende spits van my ore
ek staan op aandag
gereed vir die magtige vers
wat met volbloedige vlerke op my palms gaan land

ek grawe in die see-skulpe opsoek 
na die waarheid van die woord
ek krap onder die volstruispoot se toonnaels
honger vir die metafoor wat alle metafore sal oortref

die woorde lê soos spook-spore
op die skadu's van die nag 
weier om gesien of gevang te word

en tog, soos klein swart poppie-saadjies 
kom lê die 
voortdurende wilskrag van 
die poësie
tussen 
die 
lugholtes 
van 
my 
ribbes

as die woord kom
weet ek hoe verruklik die lettergrepe soos 
ryp snye avokado op my tong sal smelt

laat ek diep binne die greep van die woord lê
maak my lam, maak my onbewus,
maak my vlieg, maak my lag,
maak my ril 
en
maak my vry