Wednesday 6 December 2023

straal

wees elegant in my rouheid
wees opreg in my wildheid
wees tevrede met my talent
en staan nooit terug vir die moontlikhede wat
uit my porieë kan straal

Tuesday 5 December 2023

laat ons onthou

ons het geen verskoning
die nuwe kleur van elke dag
borduur haarself in die vlae van ons lewens
laat ons onthou om te juig met
ons wapperende kleure wat
tuimel
uit
ons monde
en arms

Monday 4 December 2023

klein en groot

my kleinlywige bestaan op
hierdie groot aarde!

my groothartige gemoed in
hierdie kleinlywige lewe!

Sunday 3 December 2023

soos ‘n nartjie

ek wil 'n gedig skryf
wat so maklik skil soos 'n nartjie
'n rympie wat gemaklik en tuis
in die mond lê soos die glimlaggende lyfie
van 'n nartjieskyfie
'n vers wat glimmer soos die sitrus-barnsteen
in die son van jou oë

Saturday 2 December 2023

sonleser en blare-digter

die son van jou oë
straal deur my gedig
die verse fotosinteer en golf
suurstof na jou longe

die gawe is wedersyds:
sonleser
en
blare-digter

dit is al wat ons vandag benodig:
son en gedigte