Wednesday 10 May 2023

ek hoor weer die eggo's

al het ek hoe baie in die einder van die wit bladsy gestaar
tref die wit my elke keer van 'n ander hoek en skerpte in my oog
my mond trek op 'n effense effe glimlag
net soos 'n bottende blombloeisel wat nou pas
die oopte om haar voel
en haar blare stadig begin inspan vir die nuwe seisoen
so hang my lippe aan die takke van afwagting
stadig-stadig ontkrul my styfgespande lippe en keel
laat vaar die stugheid wat die verkoue oor my gemoed en borskas geblaas het
ontknoop die verstarring van aftakeling
ek hoor weer die eggo's tussen my spiere
blydskap begin lek aan my wenkbroue
hierdie gedig hou my nederig
ek gaan nie te gou op en af spring van jolyt
laat die bors kop siel en lyf ordentlik weer saam inkliek
die vers flikker saggies in afwagting...

Tuesday 2 May 2023

my gedig kom lê plat op die vloer

my gedig kom lê plat op die vloer
sy voel hoe die metafore uit haar maag
die grond insyfer
laat die ontspanning deur al haar verse uitsprei
laat vaar die spierkragtige inspanning van die digtong
ontsluit al die stywe skarniere

die gedig trek al hoe platter op die grond
wil met elke liewe oppervlak van haar woorddadige lyf
in aanraking kom met die aarde

Monday 1 May 2023

asem skep

al is hierdie digterlike oomblik net 
om my te laat asem skep
is dit beter as niks
‘n oomblik waar ek uit die ritme van my asem
‘n ritme vir die gedig kan vind
in en uit 
heen en weer 
op en af met die sinne
speel en spel die getye tussen asem en verbeelding