Thursday 24 February 2022

murmuration

    for Kim

when you kiss me
a murmuration of swallows
break through
the summer skies
of
myour mouth

Friday 18 February 2022

Tannie Lau

Laura Louise Kirsten (16 November 1940 - 25 Januarie 2022)
Rus in Vrede Tannie Lau

Tannie Lau,

Deur die hartseer sit en dink ek aan die lekker herinneringe van jou

Jy het altyd die lekkerste verjaarsdagpersente gegee
en die mooiste kaartjies geskryf – elk van daai kaartjies nog in my laai weggebêre

Ek was jou spykerboud
Ek was ‘n baie skaam kind, nie gemaklik met meeste mense gevoel nie
maar met jou het ek veilig en onskaam gevoel

Jy het die heerlikste skons gebak
Soms met die room in jou mou weggelloop –
jy onthou?!
Tot vandag toe onthou en lag ons Tannie Lau

Jy het vir my en my tweelingboetie toorwêrelde oopgemaak
Wêrelde vol dwerge, elwe en drake
Jy het geweet hoe om ons verbeeldings te verryk en te vonk

Jy het my die woord djollie en voortvarend geleer

Hoe kan ons jou breiwerk vergeet – al daai pragtige truie en komberse
wat ek al die jare gebruik en uitvou
Ek gebruik nogsteeds die badhanddoek waarop jy my naam borduur het

Hoe jy my skryfkuns soveel aandag gegee het, en my so aangespoor het –
Al gaan dit moeilik, bly skryf Lara, bly skryf
Aai, hoe ons saam kon blaai deur Krog en breytenbach en opgewonde raak oor die mooi en die swaar in die lewe

Hoe meer ek onthou hoe vlakker kom sit die trane

Jy het altyd uitgevra hoe dit met my musiekloopbaan gaan
Jou glimlaggende mond het geskyn met trots met elke konsert waar jy my gehoor het
Jy het ook nie geskroom om hardop te spog met jou klavierspelende niggie nie

Daar was geen huis wat soos joune geruik het nie – so besonderse mengsel van verf, en laventel en mint
Ek koop die laaste twee jaar ‘n deodorant wat presies soos jou huis ruik
Ek dra jou onder my arms, tannie Lau!

Ek sien jou sproetarms , jou mooi gesig, jou sterk lyf
Jou hande en naels

Jou uithouvermoë, jou aanhou en vasbyt. Dit dra ek soos goue lesse op my eie lewenspad
Jy was sterk, onafhanklik, gedetermineerd
Al was die lewe nie maklik, het jy altyd kleur en humor om jou drapeer

Dankie Tannie Lau dat jy uitgehou het tot ons jou nog een laaste keer kon sien

My boetie sê jy was ‘n Awesome Tannie
Ek stem volhartig saam
Ons beste enigste bloedtannie
ons kunstannie
ons hartstannie
Ons sal jou in ons harte bly dra

en om af te eindig: op my laaste verjaarsdag kaartjie wat ek van jou gekry het, het jy die gedig van Wang Chien vir my aangehaal, en nou roep ek jou daarmee aan:

ek gaan elke dag uit
na die stadshekke
op die uitkyk vir jou koms
ek neem ‘n fles wyn saam
in geval jy dors is
o! dat ek die oppervlak
van die aarde kon krimp
sodat ek jou skielik
langs my kan sien staan

17 Feb 2022