Thursday 22 March 2018

Die Klein Gedagte

ek vermoed ek dink te groot
te diep
te ver

dink klein
dink hier vlak naby my eie oog 
    my eie hart
as ek bly snuif agter die gat van die Groot Gedagte
gaan hy my bly ontwyk

soek vir die Klein Gedagte
so klein dat ek hom tussen
my duim en wysvinger kan vasdruk
en net duskant die kleinste lugholte
tussen my ribbes kan indruk
die Klein Gedagte sal tevrede daar sit
klein wortels en blaartjies sal begin spruit
en filigraan deur my borskas rank

hou vas aan daai Klein Gedagte
laat hom bollemakiesie slaan in my kop
hy is nie bang vir enige iets nie
nie eens vir die Groot Gedagte nie
daar is ‘n sterk sin van vervolmaking in
die bewussyn van die Klein Gedagte
ek weet dat al sou ek belangstelling
in hom mag verloor
sy grootte geensins sal verander
nie kleiner of groter sal hy word

komaan, leer om met kalmte 
en genoegdoening
die Klein Gedagte te bemin
min plek vat hy
en lig lê hy in my kop
ek het geen vrees -  
hy sal my nie laat omtiep 
van buitensporige gewigtigheid