Sunday 22 May 2016

in plaas van my foon

in vandag se smartphone-era
haal ek trots in
die oog van die publiek
my potlood en skryfboek uit in
plaas van my foon

met oordrewe arm-swaai
vou ek die blaaie oop en
met ekstra perkussiwiteit speel ek
met my potlood op die blad

maak ek seker die teenwoordigheid van hierdie skryfboek en potlood 
word helder en onbeskaamd
in die bewussyn van 
die oorbevolkte selfoon-landskap
aangekondig

Thursday 19 May 2016

pre-metafoor

die opwinding om 
in die pre-skepping-fase te wees
daar waar die skugter metafoor 
liggies aan my oogwimpers lek

die hart versnel soos
op die voor-aand van 'n groot avontuur

ek noem dit 'n wit opwinding
waar eindelose moontlikhede 
op die tabula rasa lê
'n ongeëwenaarde chemistry tussen my en die verwagtende oomblik

hierdie hang oor die tuimelende klowe van kreatiwiteit
kan dit nie langer hang voor verwesenliking intree?

hoe bewonderingswaardig die realisasie van 'n digterlike droom deur
magiese metaforisasie ookal mag wees
is dit die antisipasie van 
poëtiese manifestasie wat 
die groter aantrekkingskrag het

my hart vergroot
ek staan op die punte van my tone gereed
om die uitspansel van
al die digterlike moontlikhede
in my hele borskas in te asem

Tuesday 17 May 2016

waaragtige tyd

ek besef vandag dat 
ek 
letterlik 
in 'n gedig
tyd              kan            skep 
tyd uit die niet kom met die lettergrepe getoor
ek weet nie hoe kry ek dit reg nie
maar 'n nuwe sfeer van tyd het ek vandag ontketen

dit is 'n waaragtige tyd wat 
nie met syfers en horlosies afgemeet word nie
dit is nie 'n spasie of ruimte of ritme nie
nie eens 'n gevoel nie
net 'n wete dat met hierdie versmatigheid
ek in 'n nuwe tydsdimensie nou so helder 
die digterlike begrip so veel beter snap

Saturday 14 May 2016

kolk

Temple //Xam by Kim Goodwin & the DandyLion crew created for the AfrikaBurn Festival, in the Tankwa Karoo (photo: Louis Bolton)
kolk

‘n tornado van hout kolk uit die klip-grond
en kom tot stilstand soos ‘n ge-ankerde skip
ongesiens skiet daar wortels diep en 
klou aan klip en alle aardskragtigheid om hierdie heiligdom ten alle koste
regop te laat bly staan

die heiligdom van hout:
so vereer mens-hand die arboriale hart van woud
tol en draai, spin en weef 
sodat vorm en rituele sin gemaak word

soos ‘n sterk polsslag nou net geboorte gee aan menigvuldige ritmes
so kom die Tempel van //Xam in een geboortestoot oor die klipgrond uitgestort
en maal om en om haar organika soos ‘n dawerende dervisj

oer-kolkende verse ge-ets teen Karoo-lug
voel ons oombliklik tuis in haar skaduwees en singende koepels
vas en tog so vry op die grond staan sy haar staan
in haar vlegsels ‘n oer en speelse mensdom ingeweef
na al die eeue heen hoor ons nog die rou fluisteringe in 
hulle vergete taal 

hoeveel lywe is al uitgewis
in die naam van gulsigheid?
hoeveel siele het al die gees gegee 
in die dryf van sogenaamde beskawing?

en hier staan ons, die afstammelinge van verstoting, aan die lewe
ons kan en moet treur 
maar onthou dit is ook belangrik om fees te vier in 
herinnering aan diegene wie se harte voor ons s’n gesing het
  

Monday 9 May 2016

full flummox five

in five lines i flummox my rhymes
defy all reason to hold onto pattern
have to stretch and sever the dependence on familiarity
flummox flummox flummox the tongue
to make any rigidity come undone

Sunday 8 May 2016

een rigting

wilde breinstormende vlugte
op trek soos kwiksilwerende swaels
deur 
      atmosfeer
              pyl 
                    die  
                           vlerke
en bind al die rigtings
in een almagtige oerknoop
wat lyf instinktief ken en vertrou

die brein dink daar is verskillende rigtings
maar daar is net een

wilskragtigheid ken slegs een rigting 
en dit is :

oorlewing

Saturday 7 May 2016

ek begeer vernuwing

ek begeer vernuwing
in my taal
die taal wat ek die beste ken
die digterstaal  waarin ek my siel
druppel vir druppel
laat indrup

ek staan op die drumpel van vernuwing
in hierdie digterlikheid maak ek vir myself sin
in hierdie uitdrukking kan ek in een asemteug
myself aan die wêreld blootlê

ek begeer vernuwing
‘n vernuwende insinking in die woord
want in die woord vind ek ‘n kalmte
‘n sielstoestand waar my malligheid toet-tale aanvaarding kry

ek begeer vernuwing
‘n sin van wees waar ek soos ‘n stuk klei
perfek gevorm in rondheid
glad en maklik in mense se hande sal rol
en my woorde in die honger holtes inglip

ek het lanklaas woorde neergepen
die voorafgaande versreëls lyk nou so vreemd
my   kry nie lekker vat aan die griffels op die blanke vlak
tog is die begeerte om vernuwing in my taal te soek
so groot
wat is dit aan hierdie skryfkuns wat my heeltyd laat
jeuk en kriewel in my sitplek
in my stap
in my lê
in my eet
in my slaap?

ek begeer vernuwing
‘n verandering van hart
‘n verdieping
‘n inkoeëling tot die diepere vesels waar
ek dit nog nie gewaag het nie

in hierdie paar lyne voel ek hoe die vernuwing opdam in my kieste
met trane in my oë en
my lippe bewend en trillend van
die weenklaag wat triomfantelik deurbreek na
die joviale uitroep van kreatiewe wilskrag
wie se tyd nou aangebreek het