Wednesday 6 December 2023

straal

wees elegant in my rouheid
wees opreg in my wildheid
wees tevrede met my talent
en staan nooit terug vir die moontlikhede wat
uit my porieë kan straal

Tuesday 5 December 2023

laat ons onthou

ons het geen verskoning
die nuwe kleur van elke dag
borduur haarself in die vlae van ons lewens
laat ons onthou om te juig met
ons wapperende kleure wat
tuimel
uit
ons monde
en arms

Monday 4 December 2023

klein en groot

my kleinlywige bestaan op
hierdie groot aarde!

my groothartige gemoed in
hierdie kleinlywige lewe!

Sunday 3 December 2023

soos ‘n nartjie

ek wil 'n gedig skryf
wat so maklik skil soos 'n nartjie
'n rympie wat gemaklik en tuis
in die mond lê soos die glimlaggende lyfie
van 'n nartjieskyfie
'n vers wat glimmer soos die sitrus-barnsteen
in die son van jou oë

Saturday 2 December 2023

sonleser en blare-digter

die son van jou oë
straal deur my gedig
die verse fotosinteer en golf
suurstof na jou longe

die gawe is wedersyds:
sonleser
en
blare-digter

dit is al wat ons vandag benodig:
son en gedigte

Saturday 23 September 2023

nou ja

If you were to collect the DNA contained in a single cell and stretch it out, it would be over 2 metres.
If you put the DNA molecules in your body end to end, the DNA would reach from the earth to the Sun and back over 600 times
- Snippet of information seen at the Hermanus Botanical Society's Fynbos Festival (this year's theme: Patterns in Nature)

nou ja, as dit die feite is
moenie 
ooit 
vir my sê
dat ek nie 
die sterre kan bereik nie!

kom binne Digters

geen ander gedig as hierdie
kan geskryf word
deur my
op 23 september:

hierdie windgevoel
sal homself vaagweg herhaal
iewers in
die toekoms

geen vat aan ons emosies
kry ons werklik nie –
swiep soos spreeus teen
die lig van ons droom-oog-staar

ons maak te veel sin –
dialoog, besigheid, klasgee
advertensies, storie-en-grappie-vertel
vereis begrip en samehang

maar kom binne Digters –

ons het nodig dat die kontrapuntale inkantasies van
julle weldeurdagte,
fyngeweefde en sekuur-geweegde on-sin
ons sinne omverwerp

Thursday 21 September 2023

koggelmander soek homself in die ball basket

magistraat! roep ek uit toe 
ek die engelse vertaling vir koggelmander
op google soek

nee, nee, NEEEEEE!
hoe kan dit 'n ball basket wees?

ja, ja, JAAAA! 
blikbrein kan nie dit altyd regkry!



Tuesday 19 September 2023

Nyad

as diana nyad op 64 vir
53 ure lank kon swem oor
177 kilometers in
die donker en wilde oseaan
dan kan ek vir 'n skamele uur lank sit en digkuns skryf
deur die waters van my selfvertroue en verbeelding
sal ek swem

fokkit dink daaraan
53 ure
nie slaap
nie eet
net swem

tog, dink ek wat Nyad gedoen het
is baie meer moontlik
as sit en skryf vir 53 ure lank

mens is nader aan vis-wees
as aan sit-en-skrywer-wees
swem, skop, vorentoe beur is
veel meer natuurlik as
sit en skryf
- wat 'n krampagtige, verwronge posisie om
in te leef en te oorleef!

swem, lara, swem!

Friday 15 September 2023

wie sien die einde van die huil raak?

ek onthou helder die oomblik wanneer ek begin huil
maar die oomblik wanneer die huil ophou
merk ek nie eens op nie

dis asof die huil met soveel aankondiging arriveer
en haarself opsweep tot in 
die klimaktika van die weenklaag

en dan met soveel geruislose intuimeling in 
die sug en die floute 
net so ongesiens spore maak

hier sit sy voor my!

ek skink vir my hottjoklit 
in twee van my fraaiste porseleinkoppies
een vir my en een vir die Groot Gedig
sy het besluit om 'n draai te kom gooi

ek kan dit nie glo - 
hier sit sy voor my 
en sluk my soet en warm drankie
af met haar mooie keel
ons gesels so beleefd en 
gemoedelik met mekaar
 
ek knyp myself
ek hoor haar stem so helder!

sy komplimenteer die hottjoklit  
ons drink op mekaar 
l'chaim!

en toe spring sy op - 
ek kon haar nie neerpen nie
haar vlugtige vlerke swiep haar weg

al wat van haar oorbly 
is haar stem wat in my ore eggo 
my glimlag glimmer oor die leë koppies

iets blink vang my oog - 
'n klein repie goue stof 
klou aan die rand van haar koppie 


Thursday 14 September 2023

net sag

dis ovulasie-tyd
en my buie is oor die hele plek
die winde steek woeste stoei-gevegte oor 
die see en berge
ek is twee slapies weg van my belangrike vertoning by
die Tuin van Digters
laaste ruk handhaaf ek 'n goeie lus en energie 
maar vandag wil ek net in mekaar vou
so simpel sawwerige sensasie in die lyf
ek het nie sprankel nie
ek het funksionele energie
maar nie veel energie om aan my verskyning in Wellington te dink nie
noem dit maar-self-preservation
before the big high comes a big low
ek ken die ding al
bly net sag asem
sag dink
sag smile
wees sag sag
sag tot 
in my murg

Wednesday 13 September 2023

demomentise

the buddhists teach us a valuable lesson
about living in the moment

but sometimes it is good not to be living so in the moment
it is also quite fine to step outside of the moment
get distance
get perspective
it is not even necessary to make a moment of every moment
continuously right there in the heart of the moment
can make one volatile manic reactive

yes, it is oraait to step outside of the moment
it is even better to dissolve the moment

uhm, can one sit and write a poem in a non-moment?
yes, sure
begin by 
demomentising 
this moment

     ah, the relief
         to live in the unmoment!

Tuesday 12 September 2023

in die maag van jou ongemak

vir diegene wie 'n meerderwaardigheidskompleks het
as dit kom by die skryf van die digkuns:
wanneer jy een of meer van my gedigte ooit raakloop
mag ek in daai oomblik in 
die maag van jou ongemak kom nes maak

Monday 11 September 2023

sometimes

sometimes reading poetry
is like unexpectedly seeing the
graceless cracks on someone's heels

why write poetry?

to write poetry is a way
to gauge
to remember
to express
to observe
to breathe
to describe
to elaborate
to imaginate
to keep in and out of mischief
to be present in oneself
to be present in ones environment
to be open and receptive
to be creative
to be still whilst making unheard inner noises haha!
to laugh at oneself
to play with words
to bend ones brain
to use time
to practice and enhance language
to make holding a pen enticing
to expand eccentrically
to create new colours
to wonder and be curious
to keep learning
to make opposites rhyme
to strengthen one's whimsical muscle
to gift someone
to shape ones voice
to traverse across the empty space
to feel gratitude
to remember

Sunday 10 September 2023

the life rafts are always ready

it is the good intention of
the linguistic gods
that the rafts have thrown
anchor in
my drafts -

drafts waiting completion
but still hanging
- eagerly and patiently -
as life rafts
in my blog post files

só 'n loos wil ek wees

skaamteloos
  vreesloos
    perkeloos  
      huiwerloos
        onkreatiefloos
          kommerloos
            blaséloos
              flouloos
                onrusteloos
                  maskerloos
                    stresloos

gaan lees my ander "loos" gedig van 2020 < een groot loos is ek

Saturday 9 September 2023

gaan klim in die see

shit, ons stoot onsself so onsimpatiek
en onheilig deur die dae

genade is al wat ons sal red

gaan klim in die see Lara
gee die stoot oor aan die oseaan 
laat hy my op sy polsende skouers dra
laat hy my verlig van my aanhoudende voortbeur

al is my lyf lig, voel sy te swaar om te dra deur die dag
die groot lyf van die see is sterk genoeg
ek sal myself oorgee aan hom
sonder huiwer of vra sal hy 
my swaarmoedigheid dra en lig

Friday 8 September 2023

wat help woorde

wat help woorde -
wou
sou
moes
wat as
liewers
in plaas van
maar
eerder
moenie
kan nie
mag nie

nee man!
bly eerder stil

                                                                                241017

la llorona

revisiting poems that lie in my drafts

she is in my veins
la llorona 
wails with phleghmy groans
through the night
feels like all my blood 
cries all the tears in the world
she is in my throat
la llorona
she is in my toenails
la llorona
she is in my belly
la llorona

4 february 2020

..and still she sings and weeps in my veins

kou en spoeg

sluk die slimfoon in met een groot oopbekgedig
die skerm, die tikbord, die knoppies, die ports
- die hele keboodle -
kry die foon terug vir al die kere wat hy jou
so onsjarmant en ongevraagd ingesluk het

nee! beter as sluk -
kou die fokkin foon - screen protector en al in fyn stukkies
en spoeg in die donkerste gat van wegboendering

warm strand

hoe opwindend om deur 
die blanke blaaie van my skryfboek te blaai
en die digpotensiaal op
die wit oppervlak
te sien sidder

soos 'n warm strand
wat nie kan wag vir
die baaiers en balgooiers
om op te daag nie

so wil my woorde
ook met sambrele, roomyse
en bont handdoeke op 
die strand van
my gedig uitstrek!

Wednesday 6 September 2023

altyd oop vir inter-PRET-asie

ek wil 'n gedig skryf wat op 
'n pareidoliese manier wonderbeelde
in jou kop toor
sodat jy nuwe vorme en figure sien 
opdyns en dans met mekaar 

is dit nie maar wat ons almal
elke dag dag doen nie - ?
dat jy sin maak van my sin
op jou manier
en wanneer jy my vertel van 
jou manier van sien
spieël jou ervaring 
weer terug in my brein
op my manier

dit bly maar 'n wonderwerk
dat ons heel sinvolle gesprekke kan hou
en iewers oor die troebel waters
'n helder brug kan vind om oor te klim

***

is die kunstenaar werklik dan die kunstenaar?
die waarnemer kan verseker meer erkenning kry
vir haar eie kunssinnigheid

om jou eie nuwe skepping raak te sien 
binne 'n bestaande kunswerk
is 'n talent 
is 'n kuns

***

dus en daarom:
bly kyk en skep
bly skep en kyk
die inspirasie werk wedersyds

Tuesday 5 September 2023

bly soewerein oor die blikbrein

die lig breek van diep binne my sintuie
geen rekenaar of robot
skrik my af nie!
die lewe voel sommer skerper
en snaakser met
die wete dat ons bestaan deur blikbreine uitgedaag word

ek het 'n sterk wilsbesluit gemaak dat 
ek nie geintimideer sal word deur
die AI se geprogrammeerde talente nie
en dat ek vuriger en met sekuurder fokus
my kreatiewe spiere sal inspan
ek weier om my mag en onafhankliheid prys te gee

as dit sover gaan, sal ek hierdie wedren met 
bultende, swetende en bloeiende spiere hardloop

Monday 4 September 2023

moenie verlei word

hoe kan jy jou vertroue in 

chatgpt sit vir kreatiewe antwoorde?! 

hy weet en sif en vergelyk

en klink wonderbaarlik slim agter 

al daai regurgitasie

maar wat voel hy?!

hoe ken hy werklik die gevoel van

pyn 

ongemak 

vergeetagtigheid

vrees 

frustrasie

verlange

ongeduld

gretigheid

tydsbeperking

angstigheid

senuweeagtigheid 

oudword 

mortaliteit

alles gevoelens wat vroedvroue is vir kunswerke 


ons moet ons onhandigheid

ons onvermoë

ons honger vir vervulling

ons ongedurigheid

ons spelfoute

ons digterlike lompheid

ons onhelderheid

ons dubbelsinnigheid

ons weersprekendheid

ons deurmekaarheid

ons duiseligheid

ons oorweldiging

ons dull and uninformed moments

ons twyfeling

ons onvertroue in onsself

helder en onbeskaamd in ons warmvellige menslikheid uitbasuin


moenie verlei word deur die siel-en sintuiglose chatgpt nie

sit sommer jou spellcheck af

deactivate text prediction

uninstall alle sosiale apps

stuur google in sy moer

fok al die influencers

dit is nou die tyd om na jou eie stem te luister

zoom in op jou eie insigte en hartkamers

dit is nou die tyd om jou warmsellige brein ten volle te omhels

 en jou onweerstaanbare wilsmoedigheid

wild en wyd oor die aardbol te laat wortelskiet


Saturday 2 September 2023

dit maak saak

as jy net een minuut oor het 

om iets te skryf

dan is dit dit:

dit maak saak

dat die asem en 

die liefde

en die smiles in die gaps gestoot word

dis die drie dinge wat ons na

die ander kant toe sal dra

Thursday 31 August 2023

heel eerste keer

ek gaan bly skryf asof 
dit
elke keer 
die heel 
         eerste 
                keer 
is
wat ek op die maagdebladsy klim

en vir 
die heel 
         eerste 
                keer 
die soet portaal 
                     ontdek
               waardeur 
           die 
       poëtika 
   syfer

stom en stomp

ek voel alweer soos shakespeare se lavinia
- tong en hande afgekap - 
onvaardig in die daaglikse omgaan
van hierdie digtersbestaan

net soos lavinia hou ek 'n stok 
lomp in my stomme mond en 
met my stompe arms 
stuur ek die stok oor die grond en 
kerf die rou en snyende waarheid in 
die verbysterde grond

Wednesday 30 August 2023

Die Wederkoms

W. B. Yeats se bekende gedig The Second Coming het hierdie week weer oor my pad geloop.
En nou voel ek voorbarig genoeg om dit na Afrikaans te vertaal...

Die Wederkoms

Draai en draaiend in die tregterende kolk
Die valk hoor nie die valkenier
Dinge val uitmekaar; die kern kan nie langer vashou;
Blote anargie breek los oor die aarde,
Die bloed-deurdrenkte gety trek los, en oral
Verdrink die seremonie van onskuld;
Die bestes het hulle oortuiging verloor, wyl die ergstes
Vol passievolle intensiteit rondpyl.

Sekerlik moet ‘n openbaring oppad wees;
Sekerlik is die Wederkoms aan die kom.
Die Wederkoms! Skaars is daardie woorde oor ons lippe
Wanneer ‘n grootse beeld uit die Spiritus Mundi
My sig kwel: iewers in die sand van die woestyn
‘n Vorm met die lyf van leeu en die kop van man,
‘n Kyk so strak en genadeloos soos die son,
Beweeg met sy stadige dye, wyl alles daaromheen
Skadus gooi van die verontwaardigde woestyn-voëls.
Die donker val alweer; maar nou weet ek
Dat twintig eeue se stenerige slaap
Verdraai is tot nagmerrie deur ‘n sussende wiegie,
En watter rowwe dier, sy uur uiteindelik gearriveer,
Sloer na Bethlehem om gebore te word?

Vertaling van W. B. Yeats se The Second Coming

Tuesday 29 August 2023

slaaf van die lafenis

my verslawing
is die lawing wat 
my verse vir my bring

moenie tussen my vers
en sy lawenis kom nie!

ek is die slaaf van die vers-lawing

moenie my rehab toe stuur nie!
die lafenis van die vers-lawing
is die beste terapie!

Monday 28 August 2023

te veel gevra?

die woord klop in my tong
soos 'n polsende hart

kyk, daar is die bloed van die digter wat
uitrank tussen die honger sillabes

en kyk, daar is die are wat bontstaan om
die smagting van die digter te voed

- smagting om betekenis 
in 'n ongeforseerde, onsentimentele,
intelligente, indrukwekkende,
sielsroerende en hartskwylende wyse oor te dra

o jiire, is dit nie te veel gevra van
my bloedsomloop nie?

Sunday 27 August 2023

dis genoeg gevra van 'n gedig

ek het jare terug geskryf oor hoe ek wag vir
die Groot Gedig om sy verskyning te maak
 - en ek wag nogsteeds!

nou wat ek terugdink aan daai gedig  
besef ek wel hoeveel klein Grootmoedige Gedigte ek
sedertdien geskryf het
verse wat nie noodwendig sosiale, ekologiese
en politiese grense verskuif nie
maar verse wat wel vonke in my murg skiet

die Groot Gedig mag my nog ontwyk
maar vir nou skaar ek my by my klein Groothartige Verse
met hulle in my mond
word my voeteval
verkwik met 'n waaghalsige elegansie

- en dis genoeg gevra van 'n gedig
 - groot of klein!

Saturday 26 August 2023

nader

elke keer wat ek 'n klavierstuk bemeester
voel dit asof ek 'n tree of twee
nader aan die uitmergeling beweeg

my rug, my ribbes, my longe, my skouers,
my nek, my heupe, my boude
word stukke wrak van die inspanning

ek strek, ek stap, ek yoga, ek fiets, ek dans,
maar dit voel nie genoeg
moet ek die klavier laat gaan vir 'n wyle?

wat begeer ek meer - 
'n gelukkige en vry lyf
in die uitspansel van die natuur
of vingers en rug styfgekorrel in harmonieuse vlug
oor die een en 'n halwe meter klaviatuur? 

Friday 25 August 2023

vers-stand-dig

soms dink ek ek het nie verstand genoeg 
om verse te skep nie
ware diep -en verregaande verse ontwyk my meer en meer
kan ek net nog een gedig skryf 
wat mense se asem sal wegblaas!?

ek is te letterlik 
te lyflik
te skwêr
om vernuftig en verdigtig met die woorde om te gaan

maar dit gaan my nie keer om aan te hou skryf 
ek en my verse sal opstandig wees in
die gesig van die mismoed 

ja, Lara!
   komaan, wees vers-stand-dig
      en bly skryf!


Thursday 24 August 2023

hoe de hel !?

hoe de hel kry 'n digter 
dit reg om betekenis in 
'n ongeforseerde, onsentimentele,
intelligente, indrukwekkende,
sielsroerende é
hartskwylende wyse oor te dra?

Wednesday 23 August 2023

bloedrooi is my digkuns

o my digkuns, jy kan nie help om 
bloedrooi en bloedig 
in my hart te klop nie 
jy het al die nood-digte bestanddele
om gesond en gretig te oorleef - 
die plasma van die verbeelding 
           (om die voedingstowwe in die honger selle te pomp)
die rooibloedselle van die metafore 
           (om julle asems weg te blaas met die suurstof van die vergelyking)
die witbloedselle van die ritme 
          (om julle immuniteit teen die verveling op te bou)
en die bloedplaatjies van die sinnebeelde 
          (om die vers ordentlik te laat stol in julle ore)

o my digkuns, o my bloed, hoe alles perfek pols in bloedrooi harmonie!
hoe kan ek anders as 
om myself 
bloed-dig op
die papier uit te druk?!

Tuesday 22 August 2023

'n klein vlokkie van 'n gedig

ongestoord dig ek voort met die woord wat 
rym met die soort akkoord wat
my neem na die toevlugsoord van behoort
sodat die lewenspoort kan uitswel
soos 'n digte vrugteboord 

dignoord en vlokvoort!

Monday 21 August 2023

...vanwaar die karakters op die Kruispad?

ek is die Prehistoriese Pos-Agent wat
bly klou aan die ou nuus
ek is die Alleen-er wat
die skares beloer en oor hulle
en myself kopskud
ek is die Ellendeling wat
so pateties, onkreatief, 
lui en gedisillusioneerd my asem uitblaas
ek is die Grot-Bewoner wat 
die bekende beskerming wil vermenigvuldig
ek is die Anargis wat 
al die mure in my hart wil afbreek
ek is die Kariljon wat 
deur dit alles liries en luid wil bly sing

Sunday 20 August 2023

vers koning

ek het geen verskoning
laat ek
skryf asof
hierdie
vers
koning
gaan wees
van die lande
van my digterlike verbeelding

Friday 18 August 2023

sneeuvlokkies

my digdrome is sneeuvlokkies in die afrikason -
hulle toor vlugtig die berghange van my verbeelding
maar gou smelt dit weg in die warm son van vergetelheid

Wednesday 16 August 2023

verder

elke keer wat ek 'n klavierstuk bemeester
voel dit asof ek 'n tree of twee 
verder van die dood beweeg

Tuesday 15 August 2023

laat wiel

ek klim binne my gedig asof 
dit ‘n trollie is
en laat wiel met haar die rymende isles af –
geen groter plesier as poetry-on-wheels nie!

Monday 14 August 2023

moet jouself net nie ophou verbeel nie!

en ek sê dankie
dat ek kan bly asemhaal tot in die einder van die liefde
as my longe te vroeg opgee, laat ek in die heelal se
kolkende sterremaag val en my ore bly drink aan
die sfere se singende fonteine
die wat ek liefgehad het op aarde
sal skielik in hulle slaap wakker skrik
en hulle harte voel gloei en weet dit is ek
wat hulle herinner om
na die wilde elegansie van oorlewing te pyl

ek luister na Antjie en ek dink
wie het vlerke nodig as jy ‘n digter in die omtrek het?
fokkit, moenie verder weg as hier kyk nie –
die perfeksie sit alreeds reg onder jou voete
waiting to leap and cascade with lavacious vivaciousness
ek het genoeg humorsin en avontuurlus om
die poësie te herskeleteer
die skynmuur van ons verbeelding 
sal helder bly skyn in ons doen en late
so asseblief moet jouself net nie ophou verbeel nie!
jy is ‘n boom wat nie anders kan as
om ver en hoog in digte blare-takke uit te spruit nie

en dan wanneer jy huistoe keer
sal die getye nog spel en speel tussen asem en verbeelding
mits jy nie vergeet om in aanraking te bly met die aarde nie
die vers flikker saggies in afwagting
is dit verbasend dat gesig een letter verskil van gedig?

Sunday 13 August 2023

verwronge gesig

shit, word ek ingekatrol
deur die facebook gat
wanneer ek aan die ander kant uitstrompel
voel my gesig soos die portrette van Picasso
oë, neuse, monde, wenkbroue, ore 
op ander plekke oorgeklim

ek vat my twee hande
en druk en knie
my gesig se vel en bene en 
oog -en neus -en mondholtes
terug na hulle gewone plekke

na ek ingesluk is deur die selfoonskerm
kom ek stotterend terug na die oppervlak
o fok, my gesig het weer uitmekaar geval
in plaas van myself regruk
frommel ek my verwaarloosde gesig op
en gooi dit tussen die kannibalistiese tande van die kuberruimte

6 junie 2023

Saturday 12 August 2023

ver(s)werking

(gedig geskep uit die eerste versreëls van my 20 gedigte van 2023)

ek soek ‘n lewende woord gestring van
die werwels van die letters
sodat die marionet wat jarelank die pa se hande gedienstig volg
vry kan breek en die verbasing teen mense se wange kan bons
al het ek hoe baie gesien hoedat
die gevoel van die gedig kom platlê soos
‘n lojale hond by my voete
kry ek dit maar min reg om
die digterlike oomblik te verleng na ‘n ordentlike vers
meestal trek my woord kromrug
en my asem jaag soos ‘n ondurige tango
in hierdie begeerte vir woordkapperjolle
aaijaai jaai jaai, fly me to my heart
dit is waar dit sal begin:
dit begin met die eerste tree
buite word die see natter in hierdie reën
die springgetye skuim
my are sluk die golwe heel in
die eksplosiewe K in jou naam
steek vas in my keel 
al waaraan ek kan vashou is
die warm helderheid van jou oë -
dit is presies daar waar ek wil wees
breathe me into your love
dan voel alles weer soos daai eerste dag

Eerste lyne van my blog-gedigte 2023

Ek soek ‘n lewende woord
Die werwels tussen die letters
Die marionet het nou vir te lank
Ek sien ‘n pa
Is dit verbasend dat gesig
Al het ek hoe baie
My gedig kom lê plat
Al is hierdie digterlike oomblik
Wanneer my woord kromrug
Soos ‘n ondurige tango
Begeerte vir woordkapperjolle
Fly me to my heart
Dit begin met die eerste tree
Springgetye skuim
my are sluk die getye
the explosive K in your name
the warm clarity in your eyes
dit is daar waar ek wil wees
breathe me to your love
die eerste dag toe ek

Friday 11 August 2023

lewende woord

ek soek 'n lewende woord
waaragtig so lewend soos 'n hele kloppende hart
nounet geruk uit die hygende borskas van 
'n liefmakende mens
ek honger vir 'n woord so lewend en spartelend soos 
die eerste selverdeling in die fetus
ek kan nie anders as om 'n polsende woord 
teen my hunkerende lippe te wil druk nie
geen ander woord as die lewende woord sal doen nie!
 
'n woord so lewendig soos die bloedige hoes van mimi wat 
in haar laaste boheemse oomblik
gryp na liefde en lewe
'n woord so gretig vir lewe EN oorlewing
stotterend kom die woord oor die vlaktes van my tong aangestrompel
maar lewe sal sy lewe

die akademiese prima donnas en taalkundige skerpskutters 
moet maar vers-ink in 
my onverfynde wildarmige poësie
vir wat wil ek bloedlose woorde in 
vaartbelynde konstruksies met onsielige ongeselligheid
die honger en alleen wêreld instuur?

gee my eerder bloeiende lewende woorde
wat ek 
lomp   giggelend    blosend  
baldadig   self-bewus 
parmantig  twyfelagtig en 
skaamteloos 
uit my mond laat
tuimel

Thursday 10 August 2023

geen verskoning!

die werwels tussen die letters skarnier ongeduldig
die longe kry skaars asem van die opwinding in 
die voete wat binnekort in die digterlike dans gaan inspring
as antoinette kellerman op 70 krog se woorde lyf en bloed kan inblaas
dan kan ek my eie bloedvlesige woorde lyf en bloed inblaas
ek het geen verskoning!

hier kom ek!

Wednesday 9 August 2023

ou-bekende

die marionet het nou vir te lank gelê
lig haar stowwerige kop op
span haar toue weer styf
laat haar ledemate stadig begin ritteltit met 
die ou-bekende manipulasies wat deur 
die marionet-meester se kneukels gety

Sunday 11 June 2023

...en skielik

ek sien ‘n pa
sy klein dogtertjie
stoot in ‘n Woolies trollie
en skielik voel ek die vreugde
van pa-en-kind-wees

ek is nie self ‘n ma nie
maar ek kry die oorweldigende gevoel
om hierdie gedig in ‘n trollie te laai
en haar oor al die paaie te stoot
en haar hoor lag en giggel
en ons altwee borrel van trollie-plesier

Wednesday 7 June 2023

Wednesday 10 May 2023

ek hoor weer die eggo's

al het ek hoe baie in die einder van die wit bladsy gestaar
tref die wit my elke keer van 'n ander hoek en skerpte in my oog
my mond trek op 'n effense effe glimlag
net soos 'n bottende blombloeisel wat nou pas
die oopte om haar voel
en haar blare stadig begin inspan vir die nuwe seisoen
so hang my lippe aan die takke van afwagting
stadig-stadig ontkrul my styfgespande lippe en keel
laat vaar die stugheid wat die verkoue oor my gemoed en borskas geblaas het
ontknoop die verstarring van aftakeling
ek hoor weer die eggo's tussen my spiere
blydskap begin lek aan my wenkbroue
hierdie gedig hou my nederig
ek gaan nie te gou op en af spring van jolyt
laat die bors kop siel en lyf ordentlik weer saam inkliek
die vers flikker saggies in afwagting...

Tuesday 2 May 2023

my gedig kom lê plat op die vloer

my gedig kom lê plat op die vloer
sy voel hoe die metafore uit haar maag
die grond insyfer
laat die ontspanning deur al haar verse uitsprei
laat vaar die spierkragtige inspanning van die digtong
ontsluit al die stywe skarniere

die gedig trek al hoe platter op die grond
wil met elke liewe oppervlak van haar woorddadige lyf
in aanraking kom met die aarde

Monday 1 May 2023

asem skep

al is hierdie digterlike oomblik net 
om my te laat asem skep
is dit beter as niks
‘n oomblik waar ek uit die ritme van my asem
‘n ritme vir die gedig kan vind
in en uit 
heen en weer 
op en af met die sinne
speel en spel die getye tussen asem en verbeelding

Sunday 30 April 2023

gaan haal ek haar

wanneer my woord kromrug trek
en vertroue verloor in haar digterlike sin
gaan haal ek haar saggies van
die muwwerige blad en lê haar op my tong
daar vind sy vernuwing en herlewing
proe sy die lewe anders
en spruit ver en hoog
in digte blare-takke

Thursday 27 April 2023

tangos en hiërogliewe

soos 'n ondurige tango
ruk die winde die lug heen en weer 
die wolke tol soos tientalle voete in 
die ontstuimige dans
met sikloniese onwrikbaarheid
span die winde hulle kuite
en sny met beslissende ritmika
hygende hiërogliewe teen 
die skynmuur van 
ons verbeelding

Wednesday 26 April 2023

begeerte

begeerte vir woordkapperjolle
fynbesnede metafore
ondeunde rymelarye
wat een na die ander
van die tong afrol
en die vermaaklikheid van
die poësie
herskeleteer

Monday 24 April 2023

fly me to my heart

fly me to my heart
where i can fold my wings tight
and warm around 
the volcanic core of anticipation
waiting to leap and cascade
with lavacious vivaciousness!

Sunday 23 April 2023

perfek

dit begin met die eerste tree op die blad
vandaar af sal dit net maklik gaan
daai eerste tree van oorgawe
ontkoppeling
vertroue

wees soos die oseaan
perfek in elke oomblik

die lug is perfek
die golwe is perfek
my bui is perfek
selfs die moegheid vroeër vandag
was perfek
dit het my laat uitkom opsoek na ander perfekte oomblikke
die koue water is perfek
die rotse wat oor Lover's cove kywie hou is perfek
die resident seagull is perfek
die sand se insinking onder my voete is perfek
die gil uit my keel met die eerste onderwaterdompeling is perfek
so cool so sexy so confident so suave is elke oomlik

die strewe swoeg en sweet om perfeksie te bereik is so outyds! 
moenie werk maak van daai perfekte oomblik nie
die perfeksie sit alreeds reg onder jou voete!

Saturday 22 April 2023

wie het vlerke nodig?

springgetye skuim vuurwitwarm
in ongeewenenaarde hoogtes oor
die kuslyn van my hart
my are bokspring in nuwe kinkels en kabels
en hervorm die spoed en rigting van my bloedvloei

in hierdie ongekarteerde seisoen
vlieg julle met hernieude vlerklose lywe

wie het vlerke nodig as jy 'n digter in die omtrek het?!

Thursday 20 April 2023

die verrukking in die slukpyp van die see

my are sluk die getye heel in
en ek word 
golf 
    soutdruppel
seewier 
        diep sonlose kolk
wat spinnend en tollend
na die wilde elegansie van oorlewing pyl

Saturday 18 March 2023

K i m

the explosive K in your name
breaks open in my ears like a blazing kaleidoscope

i hold a little longer onto the crackling kernel of that first plosive
keenly my breath is taken aback by
the knockknockknocking of its percussivity

over the years your K has become so kindred to my throat
what would my soft palate be without it?
i keep kindling it between my tongue and velum

no wonder the word Kiss also begins with this knightly letter!

how kind your kismet has been to carry your essence on the wings
of this fortifying sound!

K!!!
i let the kiln of my throat fire it once more before
it sinks
into
the closure of
the last two dreamy letters

immmmm

Yes! himmmm with the K
whom i love

Thursday 9 February 2023

abdullah

the warm clarity in your eyes
seeps into your fingers

you hum along on
the bank of the river

the chords rise one after the other
like ships on the oceans' swells

softly proud the nails of your fingers
beam with the fertility

of harmony


my ears keep drinking

Wednesday 25 January 2023

sterremaag

dit is daar waar ek wil wees -
daar hangend oor die afgrond van
die heelal se slukpyp in die oomblik wat
hy sy tong teen sy verhemelte vasdruk
en gereed maak vir sluk

dis so ‘n verruklike uitsien –
om ingesluk te word deur die heelal en
in sy kolkende sterremaag te val

Thursday 19 January 2023

Breathe me to the end of love

~ A parody inspired by Leonard Cohen’s Dance me to the end of love

        for Kim

Breathe me to your love with a flaming aloe
Breathe me through the longing ’till I’m folded in your arms
Lift me like a laurel leaf and be my summer swallow
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Oh, let me see your heart when the lights go out
Let me feel you breathing like they do in the dance-halls
Breathe me slowly what I know that makes me gasp
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Breathe me to the mountains, breathe me on and on
Breathe me very velvety and breathe me very long
We’re both of us behind our joy, we’re both of us in front
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love

Breathe me to the forests who are begging to be grown
Breathe me through the lips that our kisses have outworn
Cup your hands now, though the water runs out
Breathe me to the end of love

Breathe me to your love with a flaming aloe
Breathe me through the longing ’till I’m folded in your arms
Touch me with your naked breast or touch me with your heart
Breathe me to the end of love
Breathe me to the end of love


Wednesday 18 January 2023

klawer-aarde

        vir my Feetjie-Fiona

die eerste dag toe ek my eie kar besit
op die ouderdom van 37
het ek my silwer rok aangetrek
en agter die stuur ingeklim
vir ‘n spin en fotos
6 jaar later trek ek weer my silwer rok aan
dié keer klim ek agter my nuwe Yamaha klavier in
vir die eerste keer ‘n klavier wat ek waarlik myne kan noem
en ek vat haar vir ‘n spin
ek drapeer my Feetjie se feetjie-liggies oraloor
om haar gulhartige en vrygewige gees hier
oor my te voel dartel
en my hart en vingers staan tuit

ek het nooit grond besit
maar vandag met my vingers al hangend oor die klaviatuur
voel ek hoe dit is om ‘n stukkie aarde myne te kan noem
‘n stukkie swart en wit klank-grond
wat ek met die dieptes en hoogtes op en af kan klim

ah so iets glinsterend wat ek myne kan noem
dit is soos ‘n droom!

hoe baie klaviere het al onder my hande gegaan
onder my palms gesing
gebrand gevloei gevlieg
maar dan moet ek gou koebaai sê
want hulle was nooit myne nie

maar hier staan my eie klavier nou haar stewige staan in my see-huisie
is dit hoe dit voel om ‘n stukkie aarde te besit?
‘n stukkie woud?
‘n stukkie wind?
‘n stukkie oseaan?
‘n stukkie oase?

ek sien uit na die trillende horisonne wat deur die snare gaan oopbreek
die getye van melodieë wat die mure gaan afbreek
en die sterrehemel van die harmonieë
wat in my hart gaan inbreek
ek sien menigte klein oerknalle wat die punte van my vingers gaan lostoor!

maar vir nou,
buig ek neer voor hierdie klawer-aarde
en ek sê dankie
dankie

dankie