Friday 11 August 2023

lewende woord

ek soek 'n lewende woord
waaragtig so lewend soos 'n hele kloppende hart
nounet geruk uit die hygende borskas van 
'n liefmakende mens
ek honger vir 'n woord so lewend en spartelend soos 
die eerste selverdeling in die fetus
ek kan nie anders as om 'n polsende woord 
teen my hunkerende lippe te wil druk nie
geen ander woord as die lewende woord sal doen nie!
 
'n woord so lewendig soos die bloedige hoes van mimi wat 
in haar laaste boheemse oomblik
gryp na liefde en lewe
'n woord so gretig vir lewe EN oorlewing
stotterend kom die woord oor die vlaktes van my tong aangestrompel
maar lewe sal sy lewe

die akademiese prima donnas en taalkundige skerpskutters 
moet maar vers-ink in 
my onverfynde wildarmige poësie
vir wat wil ek bloedlose woorde in 
vaartbelynde konstruksies met onsielige ongeselligheid
die honger en alleen wêreld instuur?

gee my eerder bloeiende lewende woorde
wat ek 
lomp   giggelend    blosend  
baldadig   self-bewus 
parmantig  twyfelagtig en 
skaamteloos 
uit my mond laat
tuimel

No comments:

Post a Comment