Wednesday 23 August 2023

bloedrooi is my digkuns

o my digkuns, jy kan nie help om 
bloedrooi en bloedig 
in my hart te klop nie 
jy het al die nood-digte bestanddele
om gesond en gretig te oorleef - 
die plasma van die verbeelding 
           (om die voedingstowwe in die honger selle te pomp)
die rooibloedselle van die metafore 
           (om julle asems weg te blaas met die suurstof van die vergelyking)
die witbloedselle van die ritme 
          (om julle immuniteit teen die verveling op te bou)
en die bloedplaatjies van die sinnebeelde 
          (om die vers ordentlik te laat stol in julle ore)

o my digkuns, o my bloed, hoe alles perfek pols in bloedrooi harmonie!
hoe kan ek anders as 
om myself 
bloed-dig op
die papier uit te druk?!

No comments:

Post a Comment