Wednesday 25 August 2021

'n hard-op gedagte

ek kan myself indink binne
die lyf van klip
maar kan klip homself indink binne
die lyf van Lara?

Tuesday 24 August 2021

die lag

buite die grense van my kop
verby die bastion van my skedel
ander kant die filter van my vel
is 'n sosio-medies-politiese wêreld   
met so baie verbeeldingsryke kaalgatkonings
so veel blinde aasvoël-en-heyna aanhangers
en altyd die waarheidsoekende harlekyne
wat meer sukses het as die yogis
om lug in mense se longe te kry
dit is nie geld wat die wêreld tans red nie
dit is die lag

Monday 23 August 2021

die janfiskaal

die janfiskaal bly loer deur 
die ruigtes van my verse totdat 
hy 'n paar onwaaksame krieke van 
my woorde plattrek
en hulle doodluiters oor
die doringdraad van 
my tong 
hang

Sunday 22 August 2021

soos camelias

ek wil skryf totdat die bloed uit 
my tong en vingerpunte loop
ja, laat dit so wees
vir 'n damn goeie vers
sal ek bereid wees om liters van my bloed te bloei

die bloed spruit soos camelias
uit die groeipunt van my tong

hoor die bloed eggo deur my verse

simfonies, blommerig en bloederig 
rys my siel in poëtiese ekstase

Saturday 21 August 2021

kamerade

ek laat my een oog toeval
en sit my vinger liggies op my oogbal
ek voel die ratse reaktiewe spierkragtigheid wat 
my oog heen en weer katrol

met my vinger in sagte aanraking met
die flinke oog-aksie
besef ek net meer hoe
hard die oog deur die dag EN die nag werk
hoe ver en fyn sy kan sien

ek hou my handpalms warm en 
saggies oor my twee oë
ek murmureer 'n innige dankie vir 
hierdie twee kamerade
wat so mooi na my kyk

Friday 20 August 2021

versot

ek kan nie myself tot in soete ekstase lek nie
maar ek kan wel diep en eroties my digkuns inlek
en al haar donker holtes wakker en verruk lek

as ek eers ons verhouding op hierdie vlak gekry het
sal Digkuns my nooit verlaat nie
sy sal versot wees op my krullende krioelende tong!

Tuesday 17 August 2021

rogbrood en lemoensap

                vir Kim

jou liefde is die sagte, koubare tekstuur
van jou handgemaakte rogbrood
jou omarming is die soete doop
van jou varsgeparsde winter-lemoensap

die nasmaak bly talm onder my verhemelte
as ek my laaste maal op aarde kan kies 
moet dit dít wees -
               jóú rogbrood en jóú lemoensap

die herinnering van ons liefde
plant ek soos ‘n veld vol rog in my hart
en die lemoene sal soos helder sonne
oor ons dorstige tonge skyn

Thursday 5 August 2021

ek sit onder ‘n geel kombers

ek sit onder ‘n geel kombers in
‘n kafee in Onrus met ‘n rustige hart
ek voel skielik so trots op myself dat
ek myself aan die lewe kon hou tot hier
ek is nog nie omgery deur ‘n kar
geen wilde dier my in sy bek gekry
geen dodelike gif gesluk
geen moordenaar tot my slagaar aangetrek nie
geen water my verdrink nie
van geen van my hooggeklimde berge afgedonder nie

ek het in hierdie 41 jaar voluit geleef
sommige kere op die rant van risiko
en hier sit ek - lewendig - onder die geel kombers in
‘n kafee in Onrus met ‘n tevrede hart en dig daaroor

ek tel elke sekonde van my oorlewing
elke voeteval
elke oogwink
elke sprong
elke duik
elke struikel
elke sweetdruppel
elke lagbui
elke lied
elke uiting van liefde
elke gevoel van oorwinning
elke smelt in moedeloosheid
elke hoesbui
elke verte wat nader gekom het