Saturday 20 July 2019

Digtersgebed

     na aansporing van Julia Cameron en haar Artist's Way

O Heerser in die Poëtiese Hemele - 
Mag jou Digterlike Reë
vollop en met oorgawe oor my hoof val
Ek bid vir metaforiese spierkrag wat 
my woorde ver verby die horisonne sal laat hardloop

Ek bid vir genade in die tye
wat ek my mees genadelose kritikus is
Mag ek leer om my kuns elke dag te verbeter
Mag ek my vaardigheid ontwikkel en ontplooi tot
gloeiende vlakke van Wow-dom

Ek bid vir skerpsinnigheid:
'n sterk sin vir "less is more" 
en groot asseblief, 'n humorsin wat 
my digkuns onweerstaanbaar sal maak

Ek bid ook vir al die ander 
minder en meer talentvolles
Mag ons almal skyn en geen afguns of 
jaloesie vir mekaar koester
Net liefde en aanmoediging tussen 
ons kunstenaarsfamilie

Ek vra dit in Poëtika se naam

Amen

Sunday 14 July 2019

water mymering

photographer: Dani Debellis

Stroom waarin die donker
net die donker sien
met jou kan ek praat
ek ken jou beter.

- Ingrid Jonker (uittreksel uit gedig Donker stroom)

ek het vir te lank te diep gedink
dat die dieptes gatvol vir my geraak het
en my vlakkant toe gestoot het

nou mis ek daai dieptes:
daai verkolking van die self
in die liglose vakuum

hoe tragies!
ek is besig om te verdrink
hier in die vlakke waters

asseblief dieptes, kom haal my!
my lyf kan die inperking van
hierdie oppervlakkigheid
nie meer verduur

o dieptes, jy is oper
wilder
en
vryer


water pondering

Stroom waarin die donker
net die donker sien
met jou kan ek praat
ek ken jou beter.

- Ingrid Jonker (extract from the poem Donker stroom)

for too long i have thought too deeply
that the depths have become annoyed with me
and pushed me to the shallow end

now i miss those depths so much:
that vortex of the self
in the lightless vacuum

the tragedy!
i am busy drowning
here in the shallow waters

please depths, come fetch me!
my body can not stand
the confinement of
the shallowness

oh depths, you are more open
wilder
and
freer

Sunday 7 July 2019

soen-net

my pen word gevang deur die soen-net                                
veertien lyne geweef en gerym met feestelike pret            
drie kwatryne om jou toe te spin met soene                        
kom trick or treat, dit is beter as halloween se pampoene  

met honderd-vier-en-dertig soene wil hierdie soen-net jou troetel   
ontspan en hou op om aan jou bo-lip te vroetel                   
maak toe jou oë en sink in die beswyming                           
jou lippe sal begin tril met die beryming                              

gee jouself oor aan die soen-net se verleidingspel               
die hoendervleis gaan dartel al langs jou tong en vel          
drink diep uit elke soen se digterlike fontein                        
en so sal ‘n geluksaligheid in jou oorsoende kieste verskyn 

nou is dit net die koeplet wat oor is om jou koebaai te kus  
met haar twee rymende lippies sal sy jou nou aan die soete slaap sus       

Friday 5 July 2019

gee die waternimfe hulle swemplek

photographer: Dani Debellis
         
    vir Billy

hou die poele dop
en jy sal jou begeertes in die
water-arsenaal vind
en binnekort op die water loop

die waterdraers is die uitverkorenes
om deur die donker stroom te vaar
en diep dieper
diepste waters oop te kerf

jy dink dit is net waterrympies
wat soos olie op die water lê
as jy mooi kyk sal jy vlammende voorspellings
in die stille golwe se opwellinge sien

dit is sillabes wat die waterweë
met kwartsiet uitspel
moet nie jou ledemate se gehegtheid
aan die warmwaterbron verkwalik nie

elkeen van ons het ‘n diepe waterbehoefte
wat nie met leë waterbeloftes verwar moet word nie
los die waterpolitiek op die agterstoep
die kinkels gaan nie my pype indring nie

laat ons die kuns van
die ongekunstelde waterminnaars leer
en gee die waternimfe hulle swemplek
hulle sal die immer migrasie van water laat voortblom