Friday 27 September 2019

stywe krulle

ek staan voor jou
ek voel hoe die liefde jou ontwyk 

   die verlies is tasbaar

ek het afgeleer om my hande 
vas te klem in hierdie oomblikke

   die spyt moet iewers uitkruip

en so drup dit af na my voete
my tone  trek in stywe krulle op van die vloer

   ek voel hoe die trane opwel in my enkels

Thursday 26 September 2019

hoe

hoe dig 'n mens vanuit die denklose plek
daar waar dit net suiwer spontane metafoor is 
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in filigraan lettergrepe
stalaktities in oorbuise drup?

Tuesday 24 September 2019

giet

jy giet ‘n okarina in 
die doodsuur van 
die nag 
sodat
jy teen sonsopkoms met 
al die suurstof in jou longe
die oggendsinjaal kan blaas

Monday 23 September 2019

hier is ek

hier is ek

ek is hier

is ek hier?

hier ek is

is hier ek?

ek hier is

in verskeie volgordes 
maak ek seker van my ek
double-check my is
en verify my hier
maak dood seker!

nêrens anders as 
Hier 
Is 
Ek!

           Phyl Martin tuine, Nature's Valley

wipe

please pass me a serviette
i want to wipe these scuffling nouns
from my elliptical mouth

Sunday 22 September 2019

gaap

hoe lekker is dit as ek so diep en so lank gaap
dit voel asof my hele nek en keelgat
binnenste buite toe peul
my kakebeen rek op haar uiterste
daai golf van suurstof wat deur my spoel
speel beeldhouer in my binnenste
en hervorm my tot vreugdeling
van die slaapryk

gooi my in die diepste put 
van hierdie salige sluimer

met my volgende gaap 
is my mond nie meer mond nie
maar intrapplek vir 
die voete 
van 
die heelal 

Saturday 21 September 2019

kniel

ek haal my bril af
gaan op my knieë op die gras
buk oor die papier
son op my regter wang
skadu oor die woorde
wil ek hierdie gedig skryf
asof dit die heel eerste gedig
in my lewe is
vergeet van gewoontes
- aangeleer of nie -
vergeet orde spelling sinmaak rym ritme
vergeet alles wat ek voorheen geskryf het
hier is die heel eerste gedig wat ek skryf
proe die penpunt vir die heel eerste keer
die vreemde smaak van die gedig
my hand huiwer-huiwer
die skadu bly stil-stil oor die papier skuif
soos 'n onsigbare kombers val die son op my wang
ek kniel in hierdie oomblik
supplikeer myself voor die digterspapier
skep 'n ritueel
die sweet begin opdam in die waai van my knielende knieë
my nek bly my herinner aan haar stramheid
die gras waarop ek druk bly groei
die halms druk hulle patrone op
die vel van my kuite en elmboë
mag ek gemerk word
deur hierdie knielende oomblik

Friday 20 September 2019

Boomkerk

      Eikeboom in die tuin van die Moederkerk, Stellenbosch

ek sit hier by my Boomkerk
die lig wat deur die nuutoopgevoude blare breek
is die geruite vensters waardeur die goddelikheid straal
die knewel van 'n boomstam is 
God se bobeen wat sonder swik of swig 
sy goddelike staan staan
die juigende takke is die kerkbankies waarop 
die voëls lofliedere tot die hemele sing
die wortels is die geloof wat in 
onsigbaarheid die goddelikheid vasanker

o Boomgod, jou asem blaas die wêreld aan die lewe
jou groen mantel pomp kleur in ons anemiese siele
jou takke-prag ken geen argitektoniese perke
jy is milddadig in jou genade
en verrykend in 
jou standvastige omarming

o Boomgod, al wat ek jou vra is:
wees my genadig 
in die tye van my ongenade

Friday 13 September 2019

trek los

   vir die Helenvale Poets

'n karnaval van skaduwees, 
blou lug, digters 
en taxi's pols al om my 
in 'n optog van uitbundigheid

asblikke, dennebome, 
diefwering en woorde
trek los van hulle gewoontes
en kom dans in my kop

ek word verblind deur my potlood wat
vooruit hardloop laat die graniet-stof so spat!

Monday 9 September 2019

vrede

vrede is die sagte lippe-vee van die V
die salige rol van die R wat die tong sus tot
in die sweem-see van die E
en dan die sagte dowwe tong-plof van die D
laat alles daal na die on-opstairse E
wat die vredesdeur 
saggies oopknip

mag vrede in alle monde lê

Sunday 1 September 2019

Blue Sky

Sky, it was the strangest thing today to see you blue and bright
your glaring colour almost made me faint with fright!
after a lot of blinking and some careful investigation
i determined that this wasn't some fanciful hallucination

good heavens, thank you for Blue Skies today!
for weeks now we thought you'd run away
i grabbed my camera and snapped this rare beast
i had to have some evidence at least!

there were times through these sunless days
that we were rehearsing eulogies in the most tearful ways
we were convinced you'd been gobbled up by clouds and mist
or had joined the endangered species list!

come, Blue Sky, please do stay for a while and more
all this wet and dark cloud is depressing me to the core
for crying out loud, i want to frolic outside dry, wild and free
and dammit, i crave a good solid tan and my fair share of Vitamin D