Tuesday 31 December 2019

hoe anders?

hart is deurvloei deur 
die yster van bloed
hoe kan 'n hart anders
as om sterk te wil wees?

Friday 20 December 2019

staar

beide die lewe en die dood lê in my mond
altwee kompeteer vir verbale aandag op my tong
daar is net ‘n stilte wat my keel wil sus
oor geen van die twee wil ek nou dink nie
net ’n bloue vakuum wil my geestesoog teen vasstaar

Sunday 15 December 2019

ek bid met en vir my tong

ek bid vanaand dat as daar 'n hemel is
my tong reguit soontoe sal gaan na my dood
en as een van my liggaamsdele kan inkarneer
dan wil ek hê dat dit my tong is wat herlewing sal ervaar
'n tong sonder herinnering of
bewussyn
'n tong met net die hier-krag
die nou-krag
‘n tong wat vir geen iemand
se onthalwe sal klink of rol nie
net vir die onthalwe van haarself -
vir haar eie spierkragtige verrukking
mag my tong die een wees
wie die ewige lewe mag ervaar
en in eindelose kolke en maalgate
die ore van die grond altyd sal bly bekoor
ek bid
ek bid
ek bid met en vir
my tong vanaand

Saturday 14 December 2019

waaraan?

fiksasies en slegte onwillekeurige gewoontes het 
die gate in my kop diep ge-erodeer
as daar so baie gate is
waaraan kan my woorde klou?

Wednesday 4 December 2019

ek sal altyd stukkies van die waarheid inasem

deur die tekens van die trekkrag en invloed van die afgestorwenes
is daar steeds die oorheersende honger vir die genadelose opregtheid van klip
en kan ek altyd doen met die aanmaning tot
die liefde vir vry en wilde plekke
sodat ek na myself kan terugkeer met oop gemoed
en fris en vars van voor begin

daar bulder stemme in my bors
ek is nie alleen nie!
ek sal altyd stukkies van die waarheid inasem
en stukkies van die droom uitasem

laat my oë oop en wyd strek sodat meer lig en skoonheid in kan stroom
geen luide gekerm sal iets kan verander
iewers sal die vreugde weer op my hartseer-bevlekte wange skyn

goue lyne kronkelend rondom die wolke
sal die luidrugtige poësie in haar eie onbegrensde ritme spel
die wolke is nie altemit die wasems van my voorvadergeeste
wat my keelklanke toejuig
'n sagte lig sal deur die donkerte breek
kom digkuns, breek oop met oorgawe
sprei elke versmaat oop in die dans
en laat elke asem oopbreek in verruklike vonke

Tuesday 3 December 2019

die visioenêre waatlemoen breek in stukke

die visioenêre waatlemoen breek in stukke
op die geteisterde teer
die agterdogtige akkedisse skarrel opeens
in wye sirkels om die sanikende stroopspatsels
die eenoog eekhoring trippel in pastorale parentese nader aan die soete mise-en-scène
die merkwaardige mites probeer hard om nie
onder die klas van buitensporige bewerings
gekatalogiseer te word nie
dit is so 'n onbeduidende onreg wanneer
die argetipiese aksies deur die peremptoriese patriarge en burokratiese boelies so waansinnig weggevee word
die parate pruimedante en pluimende proteas
omsingel die fanatiese foonaanbidders en
hulle kettingvormende kak
en smyt hulle die suigende seestrome in
dit is te verwagte dat die duistere dwingelandy 
waaronder ons onsself en ander sit
die yslike eina veroorsaak waaraan die weemoedige wêreld ly 

ek staan aspris

ek staan aspris in die weerlig
op die mees trefbare punt
ek wil getref en geskok word tot in
die kern van my senuwees
al moet ek pikswart skroei
wil ek uit hierdie
knaende vonkloosheid
gepluk word

Tuesday 19 November 2019

skanse

die heelal se digkuns kom gesikloon alom
beur en spat en rys en styg
pars elke allemagtige metafoor 
deur muur en blaar 
ystertralie en vel
maar breek net nie deur 
die skanse van my mond nie
ah hoe bitterlik smeek my wese
dat my mond sal toegee en 
die spanning in haar vliese sal bedaar
sodat die digkuns vrylik in en uit kan vloei

Sunday 10 November 2019

altruistic evolution

how is it that fruits, nuts, vegetables and seeds 
have evolved into such edible flesh - for others - 
but can not eat and enjoy of itself?

Thursday 7 November 2019

in die crescendo

in die crescendo van die liefdespsigose 
breek die liefdeskoors deur die buis
en die kwiksilwer spat verskrik
oor die onkantgevangde aarde

die geskeurde hartvlies kan nie 
die ordinariteit van berusting onthou nie

die sanikende verhemelte probeer hard
om aan die sagmoedige streling
van die positiewe mantras vas te klou

Tuesday 5 November 2019

scrap metal

my woorde val soos swaar stukke scrap metal op die papier
sonder enige finesse of goedhartigheid
net kille hoekigheid van letters wat my oë wil uitsteek

Sunday 3 November 2019

lewenslyn

my lewenslyn van ink
my suurstoftenk van sillabes
my muti van metafore

Friday 1 November 2019

soos visse

dit is die letters wat klank maak
die letters wat die rym laat vonk
letters wat skakels vir die tongketting gee
proe van voor af hoe elke letter proe
voel die geometrika, die koepels,
die krulle, die kinkels
die versadigde boepensies, 
die pylende vaart van
elke letter-vorm deur
my gewrig en vingers dartel
soos visse kom my letters in
die oseaan van die gedig vrygelaat uit 
die net van die pen
swem vry my lettergrepige visse
swem vry!

Thursday 31 October 2019

metaforologie

ek wil 'n super-shiny graad kry in 
metaforologie
jarelange sintuiglike opslurping van 
metafore
wat my selle deurweek en 
dan soos verskietende sterre
deur die melkweg van my mond sal 
breek

Wednesday 30 October 2019

spoon-e-rhythms

how much fun to be chasing after the crotorious nook
in the hearing seat of the sun
the thrill to be in such a rad mush!
with my churning beeks i run into the nearest café
and gulp down a micken chayonaisse sandwich
as i run out, the hoor dandles get stuck
upon closer inspection i see gubble bum
stuck inside the lock
it turns out to be quite a tammoth mask
to get my fingers ungubblebummed
the tervous nension is eating me alive
the chef offers me a glass of mimmed skilk
sweetened with jawberry stram

by the time my hoiled sands are clean 
i have developed a hitting spleadache
as i open the café's door 
the creezing fold has fallen over the land
i have to grab a stretch of poilet taper
to prevent my nunny rose from galloping away 
in times like these i wish for a stood mabilizer
and a bed filled with bomic cooks,
cop porn, canpakes and man bruffins 
to make me forget the coral mode of humanity

but i am still here inside the café - 
the sun has set and i can not find any swight litch
i am digging out my lash flight
and aim straight for the sindow will
from where i sit like a pand huppet
with uncharacteristic sarfightedness
i watch the mull foon rising

a teripatetic peacher with a jaunty howboy cat 
walks through the doors
the night-shift tarbender warmly shakes her hand
and in a split-second the candhuffs are huffed around 
the peacher's wrists

stong lory short: after my chasing the crotorious nook 
in the hearing seat of the sun
he ran to a messdraker around the corner
got femininely dressed and vails narnished
to look like a a teripatetic peacher
on his/her way past the café
he could not suppress his drink craving
and walked straight to the bar
not expecting the molicepan to pretend 
to be a tarbender

storal of the mory:
you can bake melieve and dross-cress
for as long as your dardwobe (and alphabet) will hold out
there is just so much weep's shool
that you can pull over people's eyes
the traked nuth will always come out

Sunday 27 October 2019

fluweelagtige verwarring

sy en haar rebelse ribbes kom lê
onder die goeiste genade groen van die bome
haar bene bulder van verligting om 
vry van stoel te wees
haar agsiestog arms wil net wegsink 
in die spierkragtige sintaksis
van somer
haar wag-‘n-bietjie wange bloos van 
lekkerkry in haar verbeelding
haar dragtige duime kan nie wag
om lofliedere oor sy vel te baar

deur die geweldlose gordyne sien
hy haar baanbrekende borste
hy lig sy waansinnige wenkbroue
en gaan staan styf teen die koel malvapoeding mure

hy mik-mik na haar 
maar die kniehalterende tafelhoeke
en slinkse stofballe pootjie hom 
hy bly tuur na buite waar 
die bloeiende ballonne net nie wil stol
die lug slaan uit vol kneusplekke in pleitende pers

al wat haar sal red is 
'n piromaniese pasaangeër
hy sal dan dalk in haar hart kan begin glo

sy sien die triestige tarentaal oor 
die hygende hoofweg hol
die migrerende marionette weet nie waarheen!
alles voel soos fluweelagtige verwarring

vreesaanjaende frikatiewe glip uit haar mond

haar beneukte boude kry uiteindelik sit
soos wat die waaghalsige wolke
die roekelose donker invaar

sy klim binne-in die kabbelende kerslig
en vou haar woorde een-vir-een uit 
oor die pruimedantkleurige papier

Saturday 26 October 2019

ek wil

ek wil ‘n nuwe taal leer
'n toortaal met vonke
en gelukkige pense
en katoentonge

Tuesday 22 October 2019

kwiksilwer asems

            vir Kaolin

waaragtig die kreun in
ons ribbes hou nie op nie
die selle weier om te ontrafel
ons speel die vrees weg
ons klou verbete aan ons kele in die duister tye
bang en bly dat ons siele sal ontsnap na
beter sinsasies
o hoe ons hou daarvan om
te speel met die klanke gedoop in
primordiale herinneringe

diep in ons oorkanale bloei daar vlerke
wat nie kan wag om te vlieg
die rugstring loop hier reg uit ons kele uit
en spat in kwiksilwer asems deur die silwer pype
die vlees volg die klank
ongeag van skaamte
sal die vlees luister en onverskrokke
ons kwesbare siele bly omhul

ons polsslag verteer elke dag tot ‘n vlugtige gedig
ons ledemate bly hardloop agterna
die hande wil gryp gryp na vashouplek

die tornados in ons heilspellende inkantasies
sal bly kolk solank die kwiksilwer asems
in aanraking bly met die oer-grond

al wat ons wil hê is dat ons klanke
resonerende spore sal agterlaat
versadiging dartel soos warm silwer
deur ons klei-lywe

mag die kwiksilwer asems
ons kele
smelt en
giet tot 
in
vermurwende vrede

Monday 21 October 2019

as dit maar

die hart bly om teen die spoed van lig te klop
as dit maar net die lig kon sien

Sunday 13 October 2019

pondering on the 16th letter of the alphabet

pondering the poetic promises
that the prophets profess
but such a plethora of
pestilence plague the populace
the peripatetic people try hard
to bypass the problems
with intense use of their
peregrinatory impulse
the possibilities are not so endless
praise the limits of production
the panoply of poems
give my hair spontaneous curls
i can not but pause passionately in 
the face of all the potential
my pulmonary predicament 
has pushed part of my life
in a pained parenthesis
according to the kinesiologist
eating pineapple would assist
but the prospect kept looking grim
after madame pulmonolgist's super proficient
and seemingly pragmatic path to deal with
and accept the prognosis
i have been put on pills
powerful and pathetic at the same time
i am rather pleased at my progress
let me get back to the preamble
of the poem and focus on 
the poetic promises
let these pull me out of any pretense
and puppeteering
let no ploy plaster my position
as pianist and poet
with any plastic personage
pluck the peremptoriness from
the panacea
heal all mouths, mine especially,
from pitiable platitudes

Friday 11 October 2019

die stompste wapen

met die afscroll raak die skerm 'n magneet 
haar hand, frons en skouers
'n stywe lyn ineen gevleg

sy verloor haar speelse 
bewegings
en buigbare denke 
haar mensheid verkrummel

die serebrospinale vloeistof
stol in hulle tonnels
en haar veerkragtige huppel    knak

die wit in haar oë vertroebel
die irisse reflekteer
die dodelike skerm wesenloos terug

haar sintuie word geamputeer

deur die stompste wapen
van alle tye - 

die selfoonskerm


Wednesday 9 October 2019

sprinkane en vlieë

sprinkane en vlieë gooi 
hulle skaduwee's 
oor die grasse

mag ek ook die primordiale 
stoot swem skarrel 
spring vlieg 
- al die onwillekeurige spasmas -
in vin en vlerk voel sidder
en my laat vonk tot in 
die wonderwoordloosheid 
van voortbestaan

Tuesday 8 October 2019

ware sillabe

hoe gelukkig is ek om my saligheid
tussen die proteas, bye en voëls te kan kry
dankie dat ek in julle waaragtige teenwoordigheid kan wees
julle wat geen woord ken of weet
julle is ware sillabe
ritme en rym

wat skarrel ek hier oor my papier
hygend opsoek na 'n gedig
terwyl julle so eg, ongedeerd en onbewus
in die werklike Gedig leef?!

suikerbekkies, kwikstertjies, houtkappers,
tarentale, tinktinkies
oral op hulle eie fladderende manier 
aan die sing
aan die lewe!

Sunday 6 October 2019

koesterende vrywing

met ‘n nuutgevonde vryheid
rol ek  hierdie letters 
een vir een 
uit oor die papier
voel dit vir my hand soos 'n ontdekkingstog -
hierdie syerige gly van
die inkpunt oor die papier
volg my oog, hand en oor
die griffel van die pen

daai koesterende vrywing
tussen pen en papier
die tekstuur van papier net grof genoeg
om die ink vas te byt
te glad, dan sal die letters afgly

gee my ‘n gedig met ‘n lewendige
en ongladde tekstuur
sodat die tregterende lense
van julle oë
in die verse kan vassteek

geen gladdebek-gedigte
vir my nie, seblief!

miskruier

ek sit in die phyl martin tuine in nature's valley
met proteas wat alom my toring

die beweging van 'n miskruier
trek my aandag
hy het pas 'n bolletjie ontkoppel 
van 'n nat hondedrol
hy rol dit na 'n klein streepskaduwee 
onder 'n grasspriet
daar kom sy rol tot stilstand

geen beweging uit sy lyf 

soos hy oor die misbol hang
hy is nou stil
geen avontuurlike wending 
gee hy hierdie gedig nie

ek sprei my serp uit 

en gaan lê langs hom 
prop my kop op
teen 'n nat stuk hout

ek sink diep in 
hierdie tydlose saligheid

dankie miskruier - 
jy laat my plat lê
in die fynbos-skadu's

Saturday 5 October 2019

tussen pers vygies

ek sit op 'n skilferende creosote bankie in Nature's Valley
die goue gedenkplaatjie op die rugkant lees:
Die Muller familie - 4 geslagte

soos my tone oopsprei tussen die pers vygies

sing ek 'n sagte lied
ter herinnering aan die Mullers

my oog korrel na 'n by wat holomhoog 

in 'n bos stuifmeeldrade skrop en suig 
en krap en beur en stoot 

ek gaan af op my knieë

- ek self holomhoog - 
om die aksie van naderby te bekyk

hoe langer ek kyk 

hoe meer blomme en bye merk ek op
bye wat verwoed mekaar uit blomkele stoot

groot korrels geel stuifmeel 

klou taai
aan spartelende beentjies

instinktiewe verpligting

vreugde
oorlewingswaansin?

wat dryf die bye tot hierdie 

onophoudelike soeke, versameling, korwe bou 
en die magiese heuningalchemie?

Thursday 3 October 2019

Rusalka en die Maan

Die waternimf Rusalka en die Maan
het ‘n geheime ontmoeting

die Maan kan deur die water skyn
en lig in haar hart straal

die Man maak haar verward en koorsig
die lig in sy oë kan nie haar waters penetreer
en tot in die hart van haar watersiel sien nie

los hom
los hom

sy swem vry met die Maan se tong
wat haar rugstring vol wakkerte lek

Tuesday 1 October 2019

my gedigte se sê

ek besef dat my gedigte
iets anders sê as wat ek eintlik wil sê
hulle sê gereeld iets anders
draai in ander (dog soms verrassende) draaie in
maar nie in die draaie van my innigste sê-se-begeerte nie
ek gee voor in ander woorde as wat ek wil sê
ek voel meer kere soos 'n huigelaar
huigel ek kan dit doen en dit sê
maar eintlik is die diepste waarheid dalk dit: 
dat ek nie kan sê nie
ons almal skryf met die hoop om te sê
wat ons wil sê
maar die sê is so onvas
so wankelrig
so brokkelrig
so onbetroubaar
ek sê eerder niks

Friday 27 September 2019

stywe krulle

ek staan voor jou
ek voel hoe die liefde jou ontwyk 

   die verlies is tasbaar

ek het afgeleer om my hande 
vas te klem in hierdie oomblikke

   die spyt moet iewers uitkruip

en so drup dit af na my voete
my tone  trek in stywe krulle op van die vloer

   ek voel hoe die trane opwel in my enkels

Thursday 26 September 2019

hoe

hoe dig 'n mens vanuit die denklose plek
daar waar dit net suiwer spontane metafoor is 
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in filigraan lettergrepe
stalaktities in oorbuise drup?

Tuesday 24 September 2019

giet

jy giet ‘n okarina in 
die doodsuur van 
die nag 
sodat
jy teen sonsopkoms met 
al die suurstof in jou longe
die oggendsinjaal kan blaas

Monday 23 September 2019

hier is ek

hier is ek

ek is hier

is ek hier?

hier ek is

is hier ek?

ek hier is

in verskeie volgordes 
maak ek seker van my ek
double-check my is
en verify my hier
maak dood seker!

nêrens anders as 
Hier 
Is 
Ek!

           Phyl Martin tuine, Nature's Valley

wipe

please pass me a serviette
i want to wipe these scuffling nouns
from my elliptical mouth

Sunday 22 September 2019

gaap

hoe lekker is dit as ek so diep en so lank gaap
dit voel asof my hele nek en keelgat
binnenste buite toe peul
my kakebeen rek op haar uiterste
daai golf van suurstof wat deur my spoel
speel beeldhouer in my binnenste
en hervorm my tot vreugdeling
van die slaapryk

gooi my in die diepste put 
van hierdie salige sluimer

met my volgende gaap 
is my mond nie meer mond nie
maar intrapplek vir 
die voete 
van 
die heelal 

Saturday 21 September 2019

kniel

ek haal my bril af
gaan op my knieë op die gras
buk oor die papier
son op my regter wang
skadu oor die woorde
wil ek hierdie gedig skryf
asof dit die heel eerste gedig
in my lewe is
vergeet van gewoontes
- aangeleer of nie -
vergeet orde spelling sinmaak rym ritme
vergeet alles wat ek voorheen geskryf het
hier is die heel eerste gedig wat ek skryf
proe die penpunt vir die heel eerste keer
die vreemde smaak van die gedig
my hand huiwer-huiwer
die skadu bly stil-stil oor die papier skuif
soos 'n onsigbare kombers val die son op my wang
ek kniel in hierdie oomblik
supplikeer myself voor die digterspapier
skep 'n ritueel
die sweet begin opdam in die waai van my knielende knieë
my nek bly my herinner aan haar stramheid
die gras waarop ek druk bly groei
die halms druk hulle patrone op
die vel van my kuite en elmboë
mag ek gemerk word
deur hierdie knielende oomblik

Friday 20 September 2019

Boomkerk

      Eikeboom in die tuin van die Moederkerk, Stellenbosch

ek sit hier by my Boomkerk
die lig wat deur die nuutoopgevoude blare breek
is die geruite vensters waardeur die goddelikheid straal
die knewel van 'n boomstam is 
God se bobeen wat sonder swik of swig 
sy goddelike staan staan
die juigende takke is die kerkbankies waarop 
die voëls lofliedere tot die hemele sing
die wortels is die geloof wat in 
onsigbaarheid die goddelikheid vasanker

o Boomgod, jou asem blaas die wêreld aan die lewe
jou groen mantel pomp kleur in ons anemiese siele
jou takke-prag ken geen argitektoniese perke
jy is milddadig in jou genade
en verrykend in 
jou standvastige omarming

o Boomgod, al wat ek jou vra is:
wees my genadig 
in die tye van my ongenade

Friday 13 September 2019

trek los

   vir die Helenvale Poets

'n karnaval van skaduwees, 
blou lug, digters 
en taxi's pols al om my 
in 'n optog van uitbundigheid

asblikke, dennebome, 
diefwering en woorde
trek los van hulle gewoontes
en kom dans in my kop

ek word verblind deur my potlood wat
vooruit hardloop laat die graniet-stof so spat!

Monday 9 September 2019

vrede

vrede is die sagte lippe-vee van die V
die salige rol van die R wat die tong sus tot
in die sweem-see van die E
en dan die sagte dowwe tong-plof van die D
laat alles daal na die on-opstairse E
wat die vredesdeur 
saggies oopknip

mag vrede in alle monde lê

Sunday 1 September 2019

Blue Sky

Sky, it was the strangest thing today to see you blue and bright
your glaring colour almost made me faint with fright!
after a lot of blinking and some careful investigation
i determined that this wasn't some fanciful hallucination

good heavens, thank you for Blue Skies today!
for weeks now we thought you'd run away
i grabbed my camera and snapped this rare beast
i had to have some evidence at least!

there were times through these sunless days
that we were rehearsing eulogies in the most tearful ways
we were convinced you'd been gobbled up by clouds and mist
or had joined the endangered species list!

come, Blue Sky, please do stay for a while and more
all this wet and dark cloud is depressing me to the core
for crying out loud, i want to frolic outside dry, wild and free
and dammit, i crave a good solid tan and my fair share of Vitamin D

Sunday 18 August 2019

mango

die gedagte aan jou is
'n mango
wat so soet en
veselrig
in
my
keel
af
sak
dat selfs die slukpyp van my siel
smaakkliere groei om
niks van
jou smaaklikheid
te mis
soos
wat 
jy 
dieper
in
my 
afgly

Friday 16 August 2019

graça

                       in memory of Norman Morrissey

your bedside lamp
made sommer with an empty
graça-bottle - 
the etiquette still in tact

my eyes linger on the subtitle
casa de ouro
house of gold

yes! i shout
gold is this house
which flows with
music and poetry
tea and honey

(mumbling aside: one day i'll unscrew

the bottle-stand,
fill 'er up with
your favourite drink,
screw it fast again
and flick the switch!
the heat will suffuse your bedroom
with intoxicated light
you'll get graciously drunk
without having a single sip!)

Wednesday 14 August 2019

naaldekoker

die naaldekoker
kook kook
die lug vol
met trillende naalde
tril tril
die kwinkelerende vlerke
kwistig in 
die kwiksilwer-vlug
van sy lyf

Saturday 3 August 2019

sonder

photographer: Dani Debellis


sonder


water,

wat is die wêreld

sonder

jou genadelose genade?


without


water,

what will the world be

without

your merciless mercy?