Wednesday 31 May 2017

soos klippe

ek wil my woorde uitpak
soos klippe op die grond
in die son moet hulle lê 
al trillend en sidderend
en in die sterlig moet hulle 
oop en stil net loer vir 
die geheimenisse
wat val oor die landskap

Tuesday 30 May 2017

verblind

wat sal gebeur as ek 
al my metafore in 
die smeltkroes gooi?

een goudrooi stuk gedig

borrel en stoom 
soos kokende lawa

met my tong breek ek 

die keramiek-dop oop
sodat die blinke gietsels
selfs die son sal verblind

* * *

what will happen if i throw
all my metaphors in
the crucible?

one piece of golden-red poetry
bubble and steam
like boiling lava

with my tongue i break
the ceramic shell
so that the shining castlings
will blind even the sun

Sunday 28 May 2017

sikloon

spin my weg in 
'n digterlike sikloon
laat my tong in 
honderd helikse 
afsplinter 
en alles in sig 
opsweep -

die vrede en die onvrede 
die vreugdes en die vrese
die vryhede en die onvryhede

draai en tol onbegrensd
totdat
elke wilde visioen
klouend aan 
die sillabes
oplos tot 
een magiese metafoor

Saturday 27 May 2017

sien wie bly staan

ek sit my pen sommer direk op my tong
my hand kan nie byhou om 
die wilde woorde neer te skryf nie
en my tong is te oorweldig om
al die digter-visioene te verwoord
nou moet pen en tong
in die boksersring dit uitwoed
en sien wie bly staan

Friday 26 May 2017

verslawing

ek piepie vinnig
ek eet vinnig
ek drink vinnig
ek was en vee vinnig
net sodat ek so gou moontlik by
die klavier en digkuns
kan uitkom

soos rokers drinkers inspuiters en snuifers
hulle fix moet kry
so moet ek ook

hoe kan ek ooit apologeties wees vir
hierdie dryf om slaaf 
van
woord 
en
klank 
te wees?

Thursday 25 May 2017

beeldstorms

ek raak nou moeg vir
konsert-administrasie

ek wil nou net 
'n gedig skryf
my brein weer sag en 
plooibaar kry met
metaforiserings

ek verlang na my digterlike fantasie-wêrelde

daai plek waar my geestesoog
val en struikel oor die flitsende visoene in 
my kop
en nie kan byhou met
die beeldstorms nie

Sunday 14 May 2017

the primal pulse

may i feel the primal pulse
deep inside my chest
that pulse that takes my feet in its power
and reforms my steps into
the wild dance of deeply sunken rhythms
annexate my head with
the irrepressible heartbeat of the earth
take over my limbs with
the multiple drumming beats
colonise my heart with
the bold pulsation of
a deeply sincere humanness
proselytise my ears with 
the divine pulse captured in
the relentless driving force of
the indomitable eagerness of survival

die oer-pols

mag ek die oer-pols
diep in my borskas weer voel
daai pols wat my voete in sy mag neem
en my pas vervorm tot
die wilde dans van diep-versonke ritmes
annekseer my kop met
die onbedwingbare hartslag van die aarde
neem my ledemate oor met
die veelvuldige trom-patrone
kolonialiseer my hart met
die onverskrokke polsslae van
'n diep-egte menslikheid
bekeer my ore met
die goddelike polsering vasgevang in
die meedoënlose stukrag van
die onverskrokke oorlewingsdrang