Thursday 17 December 2020

moeg

dis na 12 en my kop en lyf baklei teen die slaap

ek is moeg en seer gehoes

moeg om my rugstring uit te katrol die dae in

moeg om my pose te hou voor klaviere en kameras

moeg vir my pen wat spartel oor die papier soos 'n drenkeling

moeg vir hierdie moegte wat bly skuifel oor die aarde sonder siel in die voetsole

hierdie glimlaglose moegte wat verstrik bly

in die roggelende longe maak

selfs my hartseer

moeg

Wednesday 9 December 2020

inkrimping

ek het moeg geword vir opstaan
ken oplig 
bors uitstoot 
stem uiter
hande oplig 
dans 
rebelleer
definieer filtreer redeneer
poëteer
dit is nie meer 'n lewenslustige wilskrag wat
my rugstring uitstrek sterre toe nie
dis nou net 'n doodslustige oorgee aan
die inkrimping van die siel

Monday 7 December 2020

afstootlik

ek is afstootlik vir myself omdat

ek nie goeie digkuns kan skryf nie

Sunday 6 December 2020

oorsprong

die lewensaar 
droom 
my hart
weer terug 
na die oorsprong 
van die gedig

Saturday 5 December 2020

ek is nie bereid

wat wil ek my boude lam sit
hier agter die gedigte
ek is nie bereid om die bietjie harmonie en ekwilibrium
van my rug en nek te verkwansel vir die buk-oor-‘n-gedig nie
staan op en loop vry van die grendel van die poësie

ongetiteld

ek is 3 uur vanoggend wakker
'n dik slaperigheid lê gerasper oor
die skone niksseggendhede in my kop
ek is nie verbaal-lus
konkrete gedagtes bly my ontwyk
al wat my besoek is die gewoonte van pen-vashou
en die stringe slym wat alewig uit my longe gehoes word
ek het my arme realiteit in stukke gehoes
laat ek in hierdie woorde nie ontken of onderskat
hoe die hoes en my longe se onwelstand
my lyf en siel beproef nie
ek kan positief bly en glo dit bou karakter en sterkte
maar ek kan nie jok en sê my longe dra nie by tot
hierdie uitmergeling, hartseer en nihilsime nie

bly asemhaal Lara
mediteer myself die soete vredes in
deur die roggel kom daar 'n ontspanning gesmelt
'n oorgawe aan die slaap wat my kop en lyf wil toevou
hoe mal is my wese oor 
hierdie ontkoppeling, hierdie ontsluiting
so ondubbelsinnig, so onverwarrend
is die stille ekstase van rus

Wednesday 2 December 2020

ek wil muur word

ek loop so na aan die mure as moontlik
ek het ‘n brandende begeerte om in die bakstene
te smelt en muur te word

ek is moeg vir mens-wees

my rug en gemoed
trek krom
ek wil alewig omkantel

ek verbaliseer elke woord stadig en hardop
in die hoop dat die sin soos ‘n trotse rugstring my siel
regop regopper regopste sal laat staan
die mure sal my dan beter raaksien
en my in hulle geledere nooi

ek kan nie wag om muur te word
‘n duidelike begrensing van
binne en buite
'n afweer van troebel waters
‘n ondubbelsinnige afkamping
van grys areas

so na aan die mure loop ek
wil inglip agter die pleister
en ook muur word

                 is ons verbaas dat mens rym met kens
                 en muur met puur?

Tuesday 1 December 2020

traksie vir my sielswiele

by die begin van die gedig is
ek vol self-vertroue en
geesdrif
ink begin rinkink in die
nokke van die vers

sal ek
in die
negosie-winkel van die 
malkoppighede
aandring op
asemrowende
klandisie?

met ander woorde:
ek is maar net opsoek na
traksie vir my sielswiele

een van die dae sal die
nood so groot word dat my tande tot deur my brein gaan
kners
en die
letters deur my porieë gaan
etter

laat 
ek
titanies regopstaan
teen die
ewige
rebellie van die
swygsaamheid