Monday 14 August 2023

moet jouself net nie ophou verbeel nie!

en ek sê dankie
dat ek kan bly asemhaal tot in die einder van die liefde
as my longe te vroeg opgee, laat ek in die heelal se
kolkende sterremaag val en my ore bly drink aan
die sfere se singende fonteine
die wat ek liefgehad het op aarde
sal skielik in hulle slaap wakker skrik
en hulle harte voel gloei en weet dit is ek
wat hulle herinner om
na die wilde elegansie van oorlewing te pyl

ek luister na Antjie en ek dink
wie het vlerke nodig as jy ‘n digter in die omtrek het?
fokkit, moenie verder weg as hier kyk nie –
die perfeksie sit alreeds reg onder jou voete
waiting to leap and cascade with lavacious vivaciousness
ek het genoeg humorsin en avontuurlus om
die poësie te herskeleteer
die skynmuur van ons verbeelding 
sal helder bly skyn in ons doen en late
so asseblief moet jouself net nie ophou verbeel nie!
jy is ‘n boom wat nie anders kan as
om ver en hoog in digte blare-takke uit te spruit nie

en dan wanneer jy huistoe keer
sal die getye nog spel en speel tussen asem en verbeelding
mits jy nie vergeet om in aanraking te bly met die aarde nie
die vers flikker saggies in afwagting
is dit verbasend dat gesig een letter verskil van gedig?

No comments:

Post a Comment