Saturday 12 August 2023

ver(s)werking

(gedig geskep uit die eerste versreëls van my 20 gedigte van 2023)

ek soek ‘n lewende woord gestring van
die werwels van die letters
sodat die marionet wat jarelank die pa se hande gedienstig volg
vry kan breek en die verbasing teen mense se wange kan bons
al het ek hoe baie gesien hoedat
die gevoel van die gedig kom platlê soos
‘n lojale hond by my voete
kry ek dit maar min reg om
die digterlike oomblik te verleng na ‘n ordentlike vers
meestal trek my woord kromrug
en my asem jaag soos ‘n ondurige tango
in hierdie begeerte vir woordkapperjolle
aaijaai jaai jaai, fly me to my heart
dit is waar dit sal begin:
dit begin met die eerste tree
buite word die see natter in hierdie reën
die springgetye skuim
my are sluk die golwe heel in
die eksplosiewe K in jou naam
steek vas in my keel 
al waaraan ek kan vashou is
die warm helderheid van jou oë -
dit is presies daar waar ek wil wees
breathe me into your love
dan voel alles weer soos daai eerste dag

No comments:

Post a Comment