Saturday 14 May 2016

kolk

Temple //Xam by Kim Goodwin & the DandyLion crew created for the AfrikaBurn Festival, in the Tankwa Karoo (photo: Louis Bolton)
kolk

‘n tornado van hout kolk uit die klip-grond
en kom tot stilstand soos ‘n ge-ankerde skip
ongesiens skiet daar wortels diep en 
klou aan klip en alle aardskragtigheid om hierdie heiligdom ten alle koste
regop te laat bly staan

die heiligdom van hout:
so vereer mens-hand die arboriale hart van woud
tol en draai, spin en weef 
sodat vorm en rituele sin gemaak word

soos ‘n sterk polsslag nou net geboorte gee aan menigvuldige ritmes
so kom die Tempel van //Xam in een geboortestoot oor die klipgrond uitgestort
en maal om en om haar organika soos ‘n dawerende dervisj

oer-kolkende verse ge-ets teen Karoo-lug
voel ons oombliklik tuis in haar skaduwees en singende koepels
vas en tog so vry op die grond staan sy haar staan
in haar vlegsels ‘n oer en speelse mensdom ingeweef
na al die eeue heen hoor ons nog die rou fluisteringe in 
hulle vergete taal 

hoeveel lywe is al uitgewis
in die naam van gulsigheid?
hoeveel siele het al die gees gegee 
in die dryf van sogenaamde beskawing?

en hier staan ons, die afstammelinge van verstoting, aan die lewe
ons kan en moet treur 
maar onthou dit is ook belangrik om fees te vier in 
herinnering aan diegene wie se harte voor ons s’n gesing het
  

No comments:

Post a Comment