Saturday 7 May 2016

ek begeer vernuwing

ek begeer vernuwing
in my taal
die taal wat ek die beste ken
die digterstaal  waarin ek my siel
druppel vir druppel
laat indrup

ek staan op die drumpel van vernuwing
in hierdie digterlikheid maak ek vir myself sin
in hierdie uitdrukking kan ek in een asemteug
myself aan die wêreld blootlê

ek begeer vernuwing
‘n vernuwende insinking in die woord
want in die woord vind ek ‘n kalmte
‘n sielstoestand waar my malligheid toet-tale aanvaarding kry

ek begeer vernuwing
‘n sin van wees waar ek soos ‘n stuk klei
perfek gevorm in rondheid
glad en maklik in mense se hande sal rol
en my woorde in die honger holtes inglip

ek het lanklaas woorde neergepen
die voorafgaande versreëls lyk nou so vreemd
my   kry nie lekker vat aan die griffels op die blanke vlak
tog is die begeerte om vernuwing in my taal te soek
so groot
wat is dit aan hierdie skryfkuns wat my heeltyd laat
jeuk en kriewel in my sitplek
in my stap
in my lê
in my eet
in my slaap?

ek begeer vernuwing
‘n verandering van hart
‘n verdieping
‘n inkoeëling tot die diepere vesels waar
ek dit nog nie gewaag het nie

in hierdie paar lyne voel ek hoe die vernuwing opdam in my kieste
met trane in my oë en
my lippe bewend en trillend van
die weenklaag wat triomfantelik deurbreek na
die joviale uitroep van kreatiewe wilskrag
wie se tyd nou aangebreek het

No comments:

Post a Comment