Een van my klavierstudente se mammas het gevra of ek vir hom 'n gedig kan skryf wat hy tydens die skool se Eisteddfod kan voordra. Hier is dit.
(Ek is so trots om te rapporteer dat Michael goud en baie positiewe kommentaar gekry het vir sy voordrag).
Hoendertande
ek wil julle voorberei:
Wat julle hier gaan sien
is soos hoendertande – baie skaars:
‘n 10-jarige seuntjie van Mossie straat
wat veel meer ‘n tennis toernooi wil speel
staan nou hier om ‘n gedig met julle te deel
Ek het geen net of rakket om my te beskerm
HELP! Ek kry ‘n knoop in my tong en my derm
Waar is my groen balle wanneer ek hulle nodig het?!
Net een enkele klein gedig in my mond
om my van julle starende oë te red!
Ek is darem nou al in die middel van die vers
Ek hoef nie meer op my tande te kners
Ek begin van hierdie rym te hou -
dit is soos om op tjoklits te kou
Al jaag my asem en word my wange rooi
is dit so lekker om woorde oor die net van my tong te gooi
Ek hoor al hoe die skare gaan juig
wanneer ek aan die einde vir almal gaan buig
Nee! Hoe het ek so gou by die einde gekom!?
My maag het nog nie eens begin brom
Liewe Luisteraars – luister nou mooi
Ek het julle gewaarsku wat julle hier gaan sien
is soos hoendertande – baie skaars
Hierdie 10-jarige seuntjie van Mossie straat
wat so graag tennis toernooie speel
wil nou meer en meer gedigte met die wêreld deel