Tuesday 26 March 2013

jy probeer sy dimorfika sonder xenofobia te aanskou

onbelangstellend kyk die stuk wit my in die
oog lag vir my dat ek aanhitser-aanhitser speel
"vir wat wil hierdie versie-maker nou my mooi

blanke vlak beswart met woorde?" is dit nie al
hierdie versameling woorde wat hierdie rommelary
in die wêreld veroorsaak nie? wat sal gebeur as

ons elk 'n kloosterbestaan inval sal ons dan ophou
om ons koppe te insemineer met opgesmukte idee's
dit is die noodlot met die pratende monde

ly ons nie maar almal aan eggolalie nie?
van toentertyd bly ons neerskryf jirre, die
palimpses val al uitmekaar soos 'n verrotte

sakdoek ons verliefdheid op ons sogenaamde vryheid
maak ons ewige slawe van hierdie enkele idee
boender hierdie malligheid weg! koop

splinternuwe moed by die padstalletjie om die
draai smeer fango-modder op jou gesig en
begin sing in kontrapunt ons vermaaklikheidsmania

wil heeltyd die ogiesdraad van ons grense oorskry
roep al jou kornuite saam nooi hulle vir ratatouille
moenie stres as hulle die eiervrug opslobber voordat

dit gebak het nie en pasop vir hulle dipsomaniese tendensies
jy het net soveel stamina om hulle sodomitiese gewoontes
te verduur maar in jou mou voer jy al lank planne om hulle

onder jou dwingelandy te bring jy weet nie presies hoe nie
maar jy het genoeg optimisme om in jou visie te bly glo
jy giet 'n okarina in die doodsuur van die nag sodat

jy teen sonsopkoms met al die suurstof in jou longe
die oggendsinjaal kan blaas die plaveisel kraak op
drie plekke in plaas van die dipsomaniakke wakker

maak roep die fluit vir Pan uit sy sluimering die lug raak
vir 'n oomblik newelig jy voel soos 'n slaapwandelaar
hande uitgesteek dryf jy deur die dynserigheid

jy sien mettertyd Pan se ragfyn slaapkouse aan sy bokpote
jy is oorstelp van vreugde van alle plekke en tye maak hy
hier by jou sy verskyning jy probeer sy dimorfika sonder

xenofobia te aanskou maar kry dit nie so maklik reg nie
met ongekunstelde panache kom hy sy lyf en asem soos
'n wilde rankplant om jou lyf vlei jy voel hoe die soele

warmte van 'n opwinding deur jou lendene en brein smelt
maar voordat jy met jou oooh en aaaah dwepery kan begin
span hy jou in met die disselboom jaag hy jou soos 'n pakdier

deur die strate en voer die mees ongenadige klopjag uit jy bly
loop met 'n aangeleerde lankmoedigheid jy hoor hoe
sy kloppende hoewe die straat agter jou uitkalwe jy droom

van pamperlang en dolce far niente en gesprekke gevul met
pleonastiese toutologieë maar voel hoe hierdie wilde ding die
leisels stywer trek soos wat die gesigseinder net nie nader wil

kom die mees gehardste seerower sou jou met meer sensitiwiteit
hanteer wat de hel, jy het jou maandelikse paaiemente altyd betyds
betaal wat is sy vendetta? het hy 'n kontantvloei-probleem? was sy

vorige projek om 'n oligargiese hel te proseliteer?
ironies hoe die oënskynlike vryste wese tussen ons
sy eie wilde planne het om ons vryheid vir homself te vat

No comments:

Post a Comment