Thursday 7 November 2013

kalkulasie

Ek her-besoek dikwels my ouer gedigte en vind dit interessant hoe dit my maak voel. Dikwels kry ek skaam vir die naïwiteit en ongekunsteldheid van hierdie vroeër werke. Tog is daar 'n paar wat my nogsteeds diep laat glimlag, soos hierdie een, so agt jaar terug geskryf:

Kalkulasie

Kyk of jy die volgende kan beraam:
tel al die vokale saam
vermenigvuldig dit met die som totaal van die konsonante
(jy mag nota’s maak op die kante)

Tel die lettergrepe saam, bereken dan die vierkantkwadraat
(Jy moet mooi beraam en geen stap uitlaat)
Maal bogenoemde met die totaal eksplosiewe van elke woord
Dis ‘n som van ‘n ander soort

Bereken die proporsionele verhouding tussen werkwoord en punt
Jy sal gou die sin en rede vind
Deel dit met die wortel van elke dubbelsinnigheid
Woord en getal lê nou oral verspreid

Maal die omtrek van die metafoor
Met die diepte van die sin
Moenie jou som tot-taal verloor
Anders moet jy van voor begin

Bereken die spoed van die rym
Jagend deur elke lyn
En plus dit by die radius van my oë
‘n Moerse getal, kan jy glo!

No comments:

Post a Comment