Friday 30 May 2014

vlamme-krag

 die gees van vuur sit nou
soos ‘n glimmerende bronslaag
in die wande van haar maag

vuur brand en woed
tot in die diepste vesels van haar gemoed

haar boom-lyf word verswelg deur ‘n tornado van vlam
word sy geroep tot hierdie nuwe brandende stam
op die punt waar sy wil smelt en verteer
skiet die magtige vlam van gehardheid deur haar are
en weet sy, sy kan die skroeiende pyn ontbeer
met hierdie lyf wat getrou saam met haar staan deur
die vlammende jare

hou uit! staan vas!
kom wat wou, laat hy haar loei
laat hy haar skroei
binnekort sal hy haar gees van binne
en haar vel van buite rooiwarm laat gloei

die hittegolwe sal bly groei,
haar lyf met vlammespiese deurkloof
maar sy sal aanhou baklei en stoei
hê geloof in haar standvastigheid
soos ‘n stuk leer sal vlam haar brei
om die vlamme-krag deur te lei
en so haar sellulêre potensiaal toet en taal te bevry

hoor hoe lofliedere uit die hoeke van haar ribbekas sing!
kyk hoe gesange uit haar rugstring 
uitkring!

maar nou lê vlam uitgedoof
en al wat oorbly is die sissende as 
en my tong
wat die vlammende beeldryke oomblik sal bly loof

so het ek geleer om vuur met my eie tong op te lek
te kou en maag toe te sluk om so my eie vuur op te wek
kyk, die fladder flonkering van vlam lyk nes
die fladder van tong
klink nes die flonker van tong
tuis is tong in vlam
dit hoort so graag aan hierdie brandende stam

Flaming Earth Pod
Sculpture by Kim Goodwin and photo by Petru Lötter

No comments:

Post a Comment