Tuesday 4 February 2020

brokkel

die ontstuimige kleintongetjie grom vir
die geroesde musiekboks wat nog
sulke wonder-klanke kan uittoor

die donsige suikerbekkie-kuiken duik diep
in sy nes en maak die benoude geute vergeet van
al die brandnetels wat binne hulle oprank

die afgeskeepte Rubik kubus skaats en bons
verby die teësinnige handskoen
wat enige kubisme ten alle koste wil ignoreer

die gemmer verdrink in die tee
ek probeer hom red
maar hy is te glibberig

die laken sleep haarself oor die vloer
sy voel nie beskore vir hierdie nuwe dag nie
haar emosies is net te brokkelrig

al die dreine om die huis voel ook 'n ongemak
die vensterbanke kruip al
hoe nader aan die grond
die blitse springtoue dartel
al om my enkels
maar ek wil niks weet van spring

hoe ek ookal die woorde vaskram
die lettergrepe lê oral geskif
hoe de donder kan ek hierdie uitsaai?

No comments:

Post a Comment