Monday 23 March 2020

die agterdogtige palimpses

die agterdogtige palimpses
agoniseer al jare lank oor die
pandemiese tyding
wat touspring oor die bukoliese juigliedere

wie bedien alewig die swetterjoel anarchiste
wat hulself vermurwe met die karmosyn verdoemenisse?

jy sal moet ligloop vir die smotsige kombuishande
wat hard probeer ‘n inkomste verdien
die verskoonagtige versies skitter verboureerd met
die modieuse arsenaal lettergrepe wat die gedagtes wil orkestreer

die grassnyer bly dwars en dans klippig en pittig
deur die bowling alleys van die gewete

die heuning en die dou vergaar behendig al die swerkater
se verskonings en verdedig die besimpelde ritteltits
al wie bly mediteer in hierdie tye is die bedagsame pigmente
wat nie oor die nuutgeborenes se velle wil spat nie

die meganiese trots van die kariljon kners op sy tande
en elke beier van sy klokke loop katvoet deur  die vergetelheid
wat knobbelrig bly progresseer met groot drif

die geluksalige gesant raadpleeg die fatsoenlike karbonkel
om die droom te laat bedaar

kom eet jou selerysop
daai groen vesels sal die agoniserende palimpses balanseer
met onslordige verduidelikings

ek parafraseer maar net die groot idee wat so graag 
sy duisendjarige verjaarsdag wil vier
komaan, vergeet van die alewige afskeping
my dierbare agterdogtige palimpses
blaas die duisend kerse dood
en sing vollebors die bukoliese juigliedere!

No comments:

Post a Comment