'n stuk kurk is wat jy
uit die nek van 'n wynbottel trek
Dink
Ek
Sonder
Pouse
En
Rus
Alewig
Aan
TowerRam
vandat ek verlief is
agtervolg die spieëls my
hulle omsingel my
klem my keel toe
hou my gyselaar
die lyf blom
in kolkende kelke
waaruit die kuite
regdeur
die son staar
ek het vir jou gesê jy is geniaal
en ek staan nogsteeds daarby
dit vat 'n genie, 'n sekere meester, toornaar,
siener, sanger,
minnaar, man,
mens, JY
om hierdie klein druppel van 'n mens, vrou,
digter, tokkelaar, huppelaar,
lewe-liefhebber, EK
so helder raakgesien en raakgevat te laat voel
dit vat 'n genie om iemand soos my raak te toor
soos wat jy dit doen
ek is vermal ek is verlief ek is versot
ek is verhelder soos nooit vantevore
jou aandag is verbysterend,
bo-manlik, bo-menslik
hoe kan een vrou so baie aandag geniet?
jy onthul die geheime in my lendene
ek wil die vreugde, die verrukking,
die oorgawe, die feesviering
die bemagtiging, die erotiese fonteine met die res van die uitgehongerdes deel
- vrou en man -
die dorstiges, die gefrustreerdes
die hartgebrokenes
die vergetenes, die afgeskeeptes,
die moed-verloorders
en selfs hulle wat dink hulle
ken versadiging en verrukking
in elk sal 'n reinkarnasie oopblom
van die loutere ekstase
wat jy met jou enkele veelvuldige toorlyf ontketen
die gedagte aan jou
stoot soos 'n wilde springgety
no time to get depressed
no time to die
elke dag word my hande hergebore
met die saad van 'n oneindige veld
van gebare
*
die kuns van die kleine
is die strewe werd:
een klein tree
is die begin van
die duisend-myl pelgrimstog
*
hier met die woorde
so digby my
voel ek so tuis en geanker
deel van genesing lê
in taal
*
speel spel
spul spaander
spat spalk
spoel spoeg
spuit sprei
sproei spog
spruit
die woordspieëlings
*
drup-drup die dig-druppels
watter grond
gaan hulle natlei
vandag?
*
uit die traankliere van die druppelinge
- motreën -
die stil ekstase van
seëninge