spalk jy my hart oop
en giet kwiksilwerend
die glorieryke frekwensies uit jou borskas
ek is gelykertyd
ontmasker
en vasgegrendel
wat is die sin en rede?
die ongenaakbare soeke bly tintinnabuleer in my ore
die primordiale smeltkroes begin sluk
my bene probeer hard om vas te klou aan
die verruklike kontrapunt
die vlamme breek soos tokkatas en arabesques
deur my kuite en tone
lewe lewe LEWE ek voel jou !
aaaah mag ons murg bly kreun en resoneer
in hierdie strewe na behoort en heling en liefde
bly lui en uitsing o heilspellende inkantasies!
my lyf en hart kan so lomp en onvas wees
met hierdie gedig reik ek my hand onverskrokke regdeur jou ribbekas
om tot binne jou hartstollende klop van jou siels-heelal deur te dring
ek gryp na woordeboeke, richterskale
soos ek na sprokkelhout gryp en styf teen my bors druk
my hart dawer siklonies oor die aanloopbane van my sintuie
jy giet elke klop van my hart in wonderbeelde
geen boek, skaal, foto, sonar of skildery sal die klinkklare kontoere
ooit kan vasvang
my tande gryp na vleis en vrug en blom
maar hulle wil eerder hierdie uitdyende getye wat my hart in
glinsterende nuwe selle uitstoot vasbyt en maag toe sluk
al wat ek jou vra is - vou jou hande oop
laat ek hierdie sagte orgasme wat deur my slape breek
sag in jou palms neerlê
No comments:
Post a Comment