Thursday, 25 December 2025

die taal van sand

die taal van sand
is so tasbaar en verstaanbaar
dat een enkele korrel tussen my tande
my orent laat spring
een enkele korrel in my oog
my laat wriemel van ongemak
een enkele korrel tussen my bedlaken
en my beenvel my laat kriewel
en ek nie slaap totdat ek daai korrel
uit-en weggeskud het nie

dit vat een sandkorrel
om die hele totaal van sand te begryp
anders as die tale waarmee ons monde
'n hele klomp woorde
eers moet leer om 'n gedig te kan versin
het mens net 'n enkele korrel sand nodig
om die poëtika van sand te verstaan

maar genoeg van hierdie een korrel
gee my nou eerder 'n hele strand vol sand
waarop ek my voetspoor kan afdruk
en hande-en voetevol korrels
die lug kan ingooi

een korrel sand in my bed
praat vreeslik hard en ongenooid
maar 'n hele spul korrels bakkend in die son
waarop ek my lyf kan neersprei
is so sussend en aangrypend

daar is niks so lekker
soos om jou lyf in die duinings van sand
net so en só
en só in te druk
en holtes uit te hol
vir net die perfekte lê-gemak
geen matras geen gras
geen klip geen kussing
geen spons geen hangmat
kry reg om my lyf se kontoere
so perfek vas te hou en koester nie

my liewe land, ek kan nie ophou sing
o sand - jou wonderlike ding!

Saturday, 6 December 2025

die goue draad

griffel maak my inkeer tot myself
iets verhelder
iets word gestroop
iets word stadiger
iets word ritmies
iets haal asem
iets fokus

iets kry betekenis

hoe kan ek huiwer met 
'n potlood in die hand?

soveel goeie effekte wanneer ek skryf

skryf maak my asem
skryf maak my binne-oog oper
skryf maak sin
skryf verdryf die stemme wat my nie dien nie

skryf is die goue draad
wat ek opgetel het toe ek as kleintjie
my eerste letter op papier gevorm het
en tot vandag toe nog in my hande dra
met elke woord wat ek borduur op papier
skryf is blompotte en tuin natmaak
skryf is 'n warm watersak
skryf is 'n sussende wiegie
skryf is soos piepie - verligting
na 'n lang knyp
skryf integreer
skryf is delf
skryf is vastrap 
skryf  is oes
skryf is sif
skryf is hardop droom in ink
skryf is wakkerword en opstaan
skryf is aanpassing en teenstand
skryf is onhutsend en hygge
skryf is die lekkerste ding om te doen 
in my bed voor ek aan die slaap raak
skryf is luister
skryf is vormgee
skryf is vertering
vertedering
beredenering

skryf is 'n brug na die ander kant

skryf is uitstraling
skryf is lewe