Sunday 4 September 2011

kabaret-poe''sie

kabaret-poe''sie - geskryf en voorgedra deur Lara by Lara Kirsten 1

kabaret-poësie

ek soek poësie
met rooi lippe
verse met bebeende visnetsykouse
wat sexy oormekaar kruis
digkuns met lang, swart
oogwimpers wat ritmies
die metrum oop en toe knip

ek soek poësie
met rooi lippe
en rasper keel wat
die woorde fyn sny
en bloedrooi op die
vloer laat spat

kabaret-poësie

wat smeulend die heupe uitdu
die kleinste beweging tot
‘n magiese oomblik laat lei

poësie wat been en arm
in ‘n paar-dans laat
knoop en rol
en stoot in en uit mekaar

ek wil nie grys poësie praat
geen kombuis-poësie
geen hang-tiet gediggies
uit my mond laat hang nie

geen boekrak-poësie
geen korset-en-pruik-poësie
geen pinkie-in-die-lug en
tuit-mondjie-poësie

slegs poësie wat met silhoeëttiese borspunte
die lug in fyn sinsuele stukke sny

toon
enkel
kuit
kniekop
dy
heup
vinger
pols
arm
elmboog
skouer
nek
ken
lip

skaduwee en lig speel op
vou en vel

mmm, ek kan ook toor,
chiaruscories toor met
tong-tegniek
ja, ‘n enkele rol van my tong en lip
stoot die verligte stofstraal
in ‘n tsunami van estetika

my sin
hang
sexy
kabaret-matig,
in die lug
val en ontplooi
in ‘n verleidelike lyf-kragtigheid

kan my woord ‘n witwarm
lus in jou lendene ontketen?

kan my woord ‘n senuwee
laat span
en dit in ekstase laat
terugbons na sugtende bevrediging?

No comments:

Post a Comment