Sunday 10 August 2014

ek smag

ek smag vir uitbreiding transformasie verandering 
en 
transendering

gooi my boks weg
tyd vir kreatiewe vernuwing
hoe ver moet ek die ek strek
tot ek tot op nuwe ongekarteerde terrein opdaag?

goddêmmit ek wil iets skryf en sê
wat nie soos ek klink nie
wat nie beswadder is met die eng kanvas
van hierdie een enkele kleinsielige en 
kleinoppervlakkige ek nie!

die gewone eerste persoon vertelling
raak nou afgesaag
gee die eerste persoon oor na iemand anders
die oorspronklike ek se choreografie
heers nog te sterk
gooi haar uit
haar soort is nie nou welkom hier!

oorbewolk oorskadu oorvloed oorbevolk oorbefok met die ek

smagting na splinternuwe vorme van uitdrukking
honger vir nuutgeskepte simbole
en
dors vir nooit-vantevore-gehoorde inkantasies

kan ek vir ‘n oomblik aan amnesia ly
en asseblief nog ‘n sin vir die digkuns behou?

kan ek vir een helse kreatiewe oomblik
vry van die bewussyn van self wees?
kan ek ‘n ontdekkingsreisiger wees
sonder die ek-sindroom?
net vir enkele seisoene soek ek geen self-en wêreldkennis 
geen konteks en geen geskiedenis
geen verbintenis en geen behoort
geen assossiasies en geen onthou
en asseblief geen taal
laat ek los van dit alles kan staan
om toet-tale vryheid aan my digkuns te gee

                ontginning van onontdekte klip

ek gaan oefen om dit reg te kry
om vry van my eie beperkte en
beperkende denke te wees

dit sal seker help om van tyd tot tyd
die ego op te gee
maar ek baklei daarteen - ek is geen boeddhis
my lyf is so deurtrek met die ek-aroma
my gees so gehul in die ek-stralekrans
wat is die kans dat ek buite
die ek kan bestaan?!
  
her-bedink her-ontwerp
de-programmeer
en her-programmeer

skielik sien ek my                            ek               daar in die koue verte opgekrul lê
sy voel so aangetas met hierdie honger en 
soeke vir ‘n ander self
sy is moeg

tog weet sy
al wat die ek sal red
is die waterput van haar verbeelding

1 comment:

  1. Ongelooflik mooi. Raak geskryf en helder gedroom. Ons almal se journey is deels om die ek te kruisig en die Ek te ontdek. Die Ek wat verbind is met al die Ekke van die kosmos. Jou skerp selfwaarneming is juis dit wat ek jou beny. Bon Voyage!!!

    ReplyDelete