Thursday, 6 November 2014

hoe dig 'n mens vanuit die denklose plek?

in die middel van die groot hout-stoep
sit ek kiertsregop met my woordtong
en spin sagter en meer trillend as
‘n kat agter my woorde aan
die damwater nies nog agter my ore
die slik en lelies sit taai in die waai van my bene
van al die geskuifel in die holte van die roeiboot en
die wilde stekelrige waterblare
jeuk my boudvelle onbegrensd

die silhouette van berge skryf die mooiste strofes
hier voor my sit simonsberg jonkershoekberg en die helderberg

die honde hang om die mense se voete
die krieke begin hulle swart klewings aan
die skemer te smeer

hoe dig 'n mens vanuit die denklose plek
daar waar dit net suiwer spontane metafoor is 
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in filigraan lettergrepe
stalagtieties in oorbuise drup?

‘n  hond se tong smeer oor my kuit

die skemer raak stiller
die berge hang in hulle geruislose dreuning
en 
die hadeda versuim om
sy keelvolle gewoontes uit te druk

dankie god ek is weer lewen-dig!
ek is vry
ek is vreedsaam 
en voldoende gelukkig
my ledemate het weer die dans geproe
my vingers juig oor klawers
en 
my binnenstes kniel eerwaardig voor die liefde

my hart en tong hou net-net
tog
volwaardig
by
blydskap lewe met sterk vlerke in die lug
diegene nie op aandag
mis dalk sy verruklike vlug

No comments:

Post a Comment