Wednesday 3 December 2014

gebrande kekerertjies

en in die oggend is sy vroeg uit die bed
om haar van haar woelige kop te red
gaan sit sy op haar laptop en tik ‘n gedig
om haar energie op iets konstruktiefs te rig

jy sien, al bly ‘n mens op die platteland
wil mens gedurig dinge gelyktertyd doen
dink mos multi-tasking is goed vir die verstand
en sal aandag en afleiding met mekaar versoen

so wil sy kekerertjies kook terwyl sy dig
al weet sy haar aandag sal dalk onder die druk mag swig
nietemin, sy is goed op dreef
glo vas sy sal die digkuns en kekertjies aanmekaar kan weef

dit is wonderlik hoe sy aanvanklik elke hoeveel minute opstaan
om die kookpot te bly vul met water uit die kraan
die hoop is hoog, die uitsig is blink
terwyl sy aan erte én gedigte bly dink

maar wee o wee, dit was nie bedoel
dat die oggend uitdraai soos ‘n gladde stil poel
sy het paar minute te lank bly skryf
en die erte in vergetelheid laat dryf

al wat haar uit haar dommel kon pluk
is die stank van ‘n pot wat brand
word sy summier uit haar multi-tasking trots geruk
wie kon raai haar gemoedere sou so in die swart rook beland?!

gooi die vensters oop! brand die wierook!
niemand mag weet watter brand sy’t gestook
gryp die skuurwol en skrop en skuur
sy is net te bly die erte het nie ontaard in ‘n helse vuur!

No comments:

Post a Comment