Thursday 16 July 2015

opsoek

met bene uitgestrek en omhoog oor die reëling
word ek wiegend weggevoer met die greyhound bus 
die swart vrou langs my se arm peul oor die sitplek
soos sy deur haar whatsapp flits op soek na vriende om te teks
steek sy my met haar elmboog tot in 
die ongemaklike werklikheid van busry

in die wolke soek ek my drome
in bob dylan soek ek my woorde
oor en oor luister ek na sad eyed lady of the lowlands
opsoek na leidrade

die einste vrou hier langs my vou haar arms inmekaar
nadat sy besef die flitse van my spasie-irritasie 
is gemik op haar annekserende elmboog
ek bewonder hoe sy met gemak haar oë toemaak 
en in haar warm vel en groot oë net so sittend kan slaap
soos 'n baba hang haar kop op haar bors
en vlieg die kilometers ongesiend verby

ek staar nog stip om my heen opsoek na leidrade

haar donker vingers is amper dieselfde kleur 
as haar baadjie se koper knope
haar kopdoek bedrewe om haar kop gevleg
ek is bly sy slaap
want nou kan ek haar in my helder wakkerheid 
noukeurig betrag
en haar oomblikse stil lewe raak skilder in vers

No comments:

Post a Comment