Tuesday 28 June 2016

waansin

uit die sin perkoleer ek die waansin
want dit kan nie die heeltyd
eenvoudig net skone sin wees nie

uit my vingers drup die waan
want die lyf en kop begeer
troebel raserny

dis al wat die patroonmatigheid sal laat opborrel
en uitbreek in nuwe ongegrendelde malligheid
wat is fout met kranksinnigheid?

skewe sinne is goeie uitdaging vir
die verstand
wie het bepaal dat sinne regsinnig moet wees?

in vandag se deurmekaarspul van moraliteite
moet ons nie net die uitbundige headbangs oorlaat
aan die rockers en metalheads nie

ons digters moet ook in totale gekheid verval
waarin ons ons sinne op
die verhoog in splinterstukke breek

ons kan verseker baat daarby om meer gereeld
los te breek van die monotone dwangbuis
en uiting gee aan ons waansin

No comments:

Post a Comment