Monday 5 December 2016

vir Rika

haar borskas staan bont van al die harte wat sy daarbinne dra
sy het skaars plek vir haar eie klein hartjie
sy maak nie net haar hart oop vir jou nie
sy groei sommer 'n nuwe hart spesiaal vir jou
niemand weet hoe sy dit regkry
dit gebeur sommer so spontaan

sy het 'n tenger lyfie
maar kyk net watter groot skaduwee sy gooi
vir enige een wie skuiling of beskutting soek
sy het skaars plek vir haar eie klein hartjie
tog bly sy die honger en verlore harte
in die nessie van haar bors koester

mense-harte is swaar goete
en sy het nie altyd krag
om hulle te bly dra nie
maar nooit gee sy moed op 
of draai haar rug op jou
haar omgee is net te groot

as jy haar dalk in die straat mag raakloop
neem haar hart en al haar ander harte 
en dra dit vir 'n ruk vir haar
laat sy weer 'n ligtheid kan ervaar
en net weer die eenvoud
van haar eie lyf kan voel

No comments:

Post a Comment