Wednesday 13 May 2020

chemie

ontsluit die bekkenbeen van die gedig
en stort alle lewenslustige beurende vrugbare ontploffings
uit oor die dorstige vlaktes van die papier
verfrissing te vinde in elke nat ink-lyn 
die penpunt tril
met opwinding om die woordrivier
te laat vloei
in aanraking opregte aanraking
is die pen met die digterlike idee
so gereed so toegewyd
aan die metaforiese draaie
altyd op aandag om in diens te wees van die poëtika
die woord smelt in die hitte
van die digterlike kookpunt
selle woorde verhale lyding
insigte insekte sinapse geheue
verrukking wind hartklop
word geklits in die een metaforiese maelstrom en word
uitgewerp oor die kuslyn van die meditatiewe brein
nou kom elke beeld se smaaklike essensie na vore
en versterk die ander sintuie
digtatorika kan ook
chemiese reaksies ontlok
nie net in proefbuise breine kos
borrel en toor chemie nie
maar ook reg hier tussen die eindelose lengte 
tussen die brein 
die digtersoog en
die gretige papier

No comments:

Post a Comment