Tuesday 26 May 2020

klein odes aan die ClemenGold mandaryn

“a ray of light that was made fruit
the minute fire of a planet”
-         Pablo Neruda

in hierdie oomblik is jy die vrugste van vrugte
die klein ontploffings wat jy ontketen in my sintuie 
stormloop my verbeelding
gooi my toe met 'n duisend trillende mandaryne
laat elkeen van julle soos oranje soene oor my dorstige lyf oopvou
die beswyming gedy wiegend soos wat jou soet getye deur my mond gly

my keel breek oop in sugtende kreune
soos wat die sitrus
mandalas onder my verhemelte oopsprei
rapsodies spruit my tong nog smaakkliere
om elke grein aroma in te suig

jubelend verlig jy selfs die son!

gee my nog tande, tonge en slukpype
om jou oorvloedige feestelikheid
te kan proe en indrink

***

in hierdie tye van newelagtigheid
is dit jy op my tong wat
my weer in vrede en gesondheid laat glo

ek sit jou skil soos ‘n skulp teen my oor
jou sagte wit binnevel
tril met die rillings van vrugbaarheid en oorvloed

met een mandaryn-skil tussen my vingers word ek ‘n clairvoyant
in een oranje spatsel op my voorarm
skyn ‘n glimmerende mirage van die toekoms

jou skyfies soos glinsterende edelgesteentes
gesprei oor die kuslyne van ons monde
weeg elke amberstukkie op die tong
en proe die rare ryk reënbuie van afrika in elke sappige sel
           
***

barnsteen-klokke lui deur die groen takke
kom skil die mandaryne! kom skil die mandaryne!

kyk hoe die oranje skywe soos klein glimlagte
in die palms van hande oopbreek

ons staan met ootmoed en taai wange
en besing hierdie mandaryn-gawe
wat soos ‘n goue skemer
die soete herinnering oor ons kele verf

kom skil die mandaryne! kom skil die mandaryne!

***

o mandaryn, jy is suiwer spontane metafoor
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in eeue-oue sillabes
soos stalaktiete van die verhemeltes drup 

***

mag die sterre en hemelliggame vir een aand
vervang word met die mandaryne
sodat die heelal soet en helder
in taai-druppel arabesques
deur almal se drome sal skyn

***

move on with the changing times, Opperman!
en laat my eerder sing
o my nooi is in die ClemenGold mandaryn!

***

die mandaryn-bome is bedrewe marionet-meesters
wat nartjie-poppe-teater speel
en pointillisties die juigende vrugteboorde
met onblusbare oranje inkleur
watter oneindigende skilder-pret sou van gogh en dali kon toor
met hierdie dansende nartjies

***

‘n stille majesteit:
die buigende takke ril oor die swygende lanings in die boord
die lug sy hang vol verwagting

want sy het al vantevore gesien
hoe die oes-seisoene glimmer met juigende hande
soos die oranje orakels
sagte insigte in die mandjies murmel

maar vir nou hang die lug vol verwagting
die buigende takke ril oor die swygende lanings in die boord:
‘n stille majesteit

***

hulle sê
you are what you eat
mag  ek oornag in ‘n ClemenGold mandaryn verander!

***

soos bedrewe alchemiste giet son, water en grond
elke klein oranje koeël wat
so raak deur my sintuie skiet
kwes my verruklik diep tot in die hart van my tong

***

kyk die groot ronde oë wat met innige oranje onskuld
die wêreld soos wyse harlekyne beloer

***

ek smile daai mandaryn-smile
want my duim voel die grootste lekkerte
om daai eerste skeur deur die skil te maak

en hoe frons ek daai mandaryn-frons
wanneer daai gekwesde skil my so slinks
 in die oog spat

nou ja, wat sê hulle van karma?

***

my kakebeen gee oor aan die oranje ontspanning
my mond is uitgelewer aan hierdie soete omsingeling
my nek ontkoppel
ek tuimel neer in ‘n sitrus beswyming

moenie my in die rede val as ek ‘n ClemenGold besing nie!
  
***

No comments:

Post a Comment