Thursday 24 October 2013

wat my oë aanskou

die berge trap diep spore in my hart
die pieke
die valleie
die dale
die mis vasgevang
in die klowe
die lowerrykheid van groen
die grashange
die fynbosbulte
die ouhout-klompe
die glans van die golwende grashalms
fluister vervloë verhale
die kontoere smelt soos
trane in my oë
mag ek vir 'n oomblik
'n stukkie wolk wees wat
die berg-flank lek

- - -

die mis gaan lê soos
'n diep, lang sug in die kloof

- - -

die woude brei groenwollig
hulle dik, ryp steke teen die hange

- - -

laat my weggaan op
'n tog ver buite my kop
verby die horison wat
my oë kan sien
kan ek my skedel soos
'n granaat oopvou
en die sade van my denke
laat val waar hulle wil val

- - -
  
ek kyk na die muur
los elke steen op in my oë
al wat oorbly is 'n
korrel sand in die hoek van my oog

No comments:

Post a Comment