Thursday 8 September 2016

die suising van my taal die suiwerste troos

          vir pa Louis, in jou laaste dae

twee aande voor jou dood 
pen ek woorde neer as anker 
om jou laaste paar lydingsdae
iewers in my hart vashouplek te gee
jy sê op jou Louis-manier que sera sera
whatever will be will be
the future's not ours to see
die histrionika in jou stem troebel van weltschmerz

deur poorte woorde 
sidder my verbeelding in die verdoemenis 
van jou pyn en swaarkry 
ek wonder hoe gaan ek 
uit hierdie aftakeling 
digterlike sin kan put?

met moeite skribbel ek lukraak woorde
die papier begin lyk na 'n filigraan-net 
waarmee ek hierdie vlietende dae sal moet vasvang

ek maak my oë toe en sien 
ligvlekke deur digte woude breek
ek smeek dat johannesburg se stadsliggies
soos stukke sonne my sinapse sal opwakker met hoop
ek pluk elke lig soos lemoene
en gaar dit op in my arms vir die dae 
wat ek die sonnige soet gaan nodig kry

my brein stotter aan die sillabes wat glibberig bly
soos ek probeer vastrapplek kry in 
die hartskeurende oomblikke waar ons jou begin verloor

ek skryf woorde neer soos 
marionet-meester
besnaar
die ink-swart sterre 
teen 
'n sanikende hemelruim

beier en bulder
die parmantige skoppensboer
wat my hart se digte hartseer so brutaal wil vertaal

ek smag na troos
en verbeel my kaalvoete in modder
ek inkanteer die woorde 
wat herhaaldelik in my kop skyn
tierlantyntjies en kapok
sodat iewers in die donker 
'n sagte lig deur sal breek

                  26 julie 2016

No comments:

Post a Comment