Monday 26 September 2016

omring *

ek klim die heuwel agter ons huis uit
‘n kille wintersoggend in lidgetton, die midlands van kwazulu-natal
'n wilde wind terg my ywerige kuite en enkels
met jagende asems kom ek bo
ek kyk uit vir die plaat klippe 
waarop ek my gedigte gaan voordra

skielik breek twee rietbokke die stilte
en snel pylend oor die vlaktes
al agter hulle ratse pote slaan 
donker koolstof op uit die gebrande gras
met ‘n goeie afstand tussen ons 
gaan staan hulle stil en kyk my stip aan
hulle vertrou nie die vrede nie
en deins vlugtig uit my sig

ek vind my verhoog van klippe
en begin my gedigte een na die ander opsê
ek herhaal oor en oor die lyne van my gunsteling vers
hoe dig ‘n mens vanuit die denklose plek
daar waar dit net suiwer, spontane metafoor is
wat roekeloos uit die keelgat lek
en in filigraan lettergrepe
stalaktities in oorbuise drup?

ek voel aan dat iemand na my luister
ek kyk gedurig om my heen
dit is net gras, wind en heuwels 
ek is nie alleen
ek voel die land se bloed,  vesels,
kleure, liedere,
tonge en velle
voor my opdoem
daar is stemme in die wind
ek wil glo dat die asems van
my voorvadergeeste
my omring
en uitbundig my keelklanke toejuig

*Gepubliseer in die Sol Plaatje European Union Poetry Anthology, volume VI, 2016

No comments:

Post a Comment