Sunday, 16 July 2017

by die lughawe in port elizabeth

mense met soveel groot woorde en groot gevoelens
weef een sirkel om al die uitspinsels en uitspansels
van intellek en dwaasheid
dit voel asof ek soms die hele mensdom
in my rugstring dra

vliegtuig land en kom tot stilstand hier duskant
die restaurant by die lughawe in port elizabeth
ek sien jonges vasgevang in oorfone
oë genael aan skerms
duime wikkelend oor boodskappe en speletjies
kan ek net glimlag vir hierdie land
met al sy gille en hallelujahs
al sy bewegende ledemate en honger mae
hierdie land met vliegtuie wat daaglikse opstyg en land
hier is ek skuilend agter my sillabes
en droom oor die toekoms van die valleie en
die kinders en die groei van hulle jong stemme

ek sit met my palms na bo op
die klein tafeltjie in die restaurant
en glimlag vir almal wat verby stroom
ek is nie esoteries of van my kop af nie
ek wil ‘n seën uitspreek oor hierdie land en sy mense
in hierdie een gedig wil ek met soveel innige krag
goedheid en deernis tot lewe spreek

in die lughawe hang alles op so ‘n dun draadjie
vaarwelle en opwinding tril vir etlike oomblikke
voordat dit weggesweep word op vlug na
nuwe reise
nuwe beginne 

No comments:

Post a Comment