Saturday 23 February 2013

in die jagtog klou die rillingvleis verewig aan die sluimerende paradys

in die jagtog klou die rillingvleis
verewig aan
die sluimerende paradys

soek die duiwe skuiling
in
die suising van die stilte

al wat groei
is sampioene uit
die tortelerende monde

uit die wit-blou-lug hoor die soldate
geluide wat proe soos koue vakume
in porselein koppies

die ander naamlose gevleueldes
klink soos kastanjette
hulle staccato interjeksies die lug in

my mond kwyl soos ek die dansende kolle
oor my bewende oogbal sien kwinkeleer
mag geen sweem van berou op my tempels kom lê

die geel serp gaan lê
soos 'n spasma
oor die moerse sug

haar dwalende tieties skyn soos 'n kandelabra in die nag
en die mooi van haar voete
kom lê trojanies tussen sy lakens

die vlieg bots gedurig sy vlerke teen die glas
los netjies sy insek-alarm in die lug
geen melkbottel sal hierdie angs stil

die grommende maag gaan staan wydsbeen voor die oop yskas
hy swenk syntoe in
die sig van die verkluimde goggas

ek voel verplig om al die wêreld se kakpraat
in die wasbak af te spoel en al die materialiteit
in die trap-asblik te donder

die verwaande pen het 'n maniese manier
om groter as die oomblik te wil wees
hoe afskuwelik

alweer-die-hadeda op die grasdak
wat kordaat die swetterjoel bibberende aspoestertjies
aan die slaap wek

ag skiestog, die oë in my kop is maar net
versiering
wat briljant is met die wegsteek van my non compos mentis

No comments:

Post a Comment