Thursday 20 April 2017

oordrewe verbeelding

daar is 'n swetterjoel palpitasies 
te vinde in hart-kennis

in die geval van rugspanning 
betrag die situasie met maksimum aktivering van elke asemteug

jy sal sien dat jy sommer 
die klavier beter sal speel

praat reguit en onbeskaamd in jou moedertaal en moenie walg aan 
jou stink kieliebakkies

almiskie! die verrimpelde kolwyntjies is uitverstotenes op die poedingtafel

hoe kan enige iemand neutraal 
die toneel aanskou?

hou die skim dop tussen hierdie en die volgende versreël
sy rink-kink poedelkaal om jou aandag af te trek

hoekom verdink en vervreem 
mense heeltyd mekaar?

'n verdrietige vonnis soms
om mens te wees

die sterre ontkoppel ook hulself 
as dit te veel raak

as jy gelukkig is sal jy 'n insigtelike metafoor 
in my verminkte skaduwee vind

jy sal ook oordrewe verbeelding in my gedigte oplet
veral as die magneet-poësie ALWEER van die yskasdeur afgedonder het

No comments:

Post a Comment