Tuesday 4 April 2017

sy weet vandag gaan sy nie op die grond loop nie

sodra haar oë oopmaak vanoggend
begin poësie spontaan uit haar vingerpunte te lek
die eerste woord wat sy deur haar asem stoot
klink soos blommende artisjokke
met die eerste tree wat sy gee uit die bed
voel sy alreeds die veerkragtige metrum van 'n nuwe vers
wanneer sy haar bloes oor haar kop trek
hoor haar een oor die fluister van 'n metafoor wat
die aand in die kraag kom nesmaak het
sy staan vir 'n ruk voor die spieël en betrag haar refleksie
sy sien die slaap in 'n krummel vasgesout in 
die hoek van haar een oog
soos gewoonte vryf sy dit uit haar oog
en lek die sout-slaap van haar vinger
skielik proe sy die nag se drome in die soutkorrel
haar oë glimmer tevrede oor die nagrus wat
soveel beelde in haar kop laat borrel het
soos wat haar hand om die deurknop vou
sien sy die trillende moontlikhede van 
die dag onder deur die deur skyn
sy weet vandag gaan sy nie op die grond loop nie
sy gaan loop op die golwe van poësie

No comments:

Post a Comment