Thursday, 30 March 2017

verraderlike breinknopery

skryf verlossing tot in die vierkantigheid van my brein
ek voel die pen-antisipasie tril tot in my voetsole
hierdie skrywerstoewyding is ‘n enigma

ek delibereer of ek die piering moet gebruik vir my koppie
of dit op die vloer laat val
sodat die skerwe soos dolosse 'n metafoor sal spel

wat is hierdie afslowing agter pen en papier werd ?
hierdie alewige gehunker na beeldspraak
om op my tong te pirouette?

die woorde wil soos vrugte
die vaal en plat oppervlak
laat uitrys met weergalose sappigheid

was ek maar ‘n skerpskutter
wat myself kon besighou
met werklike teikens

kan my digkuns soos ‘n spilpunt wees
wat met die druk van ‘n knoppie en rol van die wiel
die dorstige vlaktes van my serebrum natlei

sodra die oesseisoen kom
moet my hande vol sal staan
van die oorvloed

hoekom moet ek eers wag vir die poëtiese spring-gety
om my met oordrewe strome in
die diepkant te stoot?

woorde is uiteindelik maar net
‘n illusie-spel
so ‘n verraderlike breinknopery

ek kou aan die ink-verdriet
en wil-wil begin snik
oor my mond wat struikel om verdienstelike verse te giet

No comments:

Post a Comment