Tuesday 21 November 2017

gooi houding!

die skrywershand moet
met houding
klem om die pen
‘n houding van seëviering

‘n houding gegeur met
‘n knippie onverskilligheid
en ‘n leksel onbesonnenheid
enige houding kan jy gooi
solank ‘n ware poëtiese vernuf
ten toon gestel word

vir hierdie eksperiment
sal ek nederigheid
en fokus op tekortkominge
in die agterlaai bêre

kom binne houding
jy word genooi om
jou alleswetende neus
die digkuns in te steek

gooi houding met
‘n los tong
en ‘n wip neus
en moenie vergeet houding is nie houding
sonder verbeelding!

as jy wil oorleef as digter 
gooi houding!

No comments:

Post a Comment