Friday 17 November 2017

onderwys

gee my 'n onderwyser 
wat my inderdaad 
onder wys
'n leermeester wat my
die onder kant van sy voete wys
die onder kant van die grond
die skaduwees onder my kieliebakkies
my alles kriewelend onder die son wys
wys my onder die matte en stofpote van sitbanke
wys my onderin die spook-kelder 
onder die belt
onder die klere
onder die oseane
onder die bewussyn 
alles so diep onder verborge wil 
ek so bittergraag gewys word
moenie my bo wys nie
daar is te veel lig en helderheid
wys my onder
daar ver onder
daar waar ek sonder huiwer ondersoek kan tref
en my ondervindinge met ware onderskeid 
en trots kan onderteken
daar waar verborge onderwerpe behandel word
en die onderrig so diep onder gerig word
dat daar 'n daadwerklike ondersteuning
sal groei in die ondergrond van alle dinge
daar waar die duister misterie
gloei in geheime
en onderhandelinge en ondervragings
met soveel ondeurgrondelike passie nagestreef word
die bogrond kan bietjie doen met onderbenutting
ons sal waaragtig ondergaan 
as ons gedurig boontoe wil mik
dit is jammer dat die onderwys onderskat en ondermyn word
dit is hoekom daar onderlangs so baie onderonsies uitbreek
ons is onderworpe aan 'n tekort aan 
kennis van die lewe se onderdele
laat dit 'n onderhoudende onderneming word
om onderdanig te wees aan die 
wonder 
ondergrond van die
onder 
wys

No comments:

Post a Comment