Friday 18 July 2014

sus, oftewel sokker blues

            oftewel, sokker blues

deur blokke en sirkels word daar gestorm, gestamp
en gestoot
die toeskouers gaan mal

op die grasperke hardloop
die pienk tekkies
nee-dankie god vir borgskap!

die haarstyle kompeteer alewig met mekaar
in dringende nastrewing om die geruis van die skares
te crescendo

hoekom kan ons nie die fotograwe vervang
met digters om die sportiewe oomblik
vas te vang nie?

op die aansteekbord
van die nag
sien ek net swart sterre

die wynvat wat my elmboog wat
my hand wat my ken steun
skerm-verslawing maak mens so tam

as al die spel se skoppe die wêreld
van waansin
en hongerte sou red

maar nou sit ek hier sonder fluit
bloedloos opgewonde en onoortuig verbaas
dat sokker my siel so kan sus

No comments:

Post a Comment