Saturday, 26 July 2014

vang die kleinste wind

van klei tot klip
water tot vuur
olywe tot appels
kaal tot kostuum
fluister tot skreeu
spring tot lê
van hier tot daar
vat die digkuns my
waarheen sal dit my nog na lei?

watter noodsaak het die interne woord?
wat moet gesê word?
wat moet gevoel word?
wat moet uitgedruk word?
wat is nodig,
waarlik nodig,
om keel
  asem
en lyf
te kry?

die drama van die digkuns wil gehoor word
dit is die doel daarvan
dit is onvoorwaardelik nood-dig
‘n onvervangbare deel van menswees
die uitdruklike vertolking van die hart

hierdie vlag is nie klein en
waai nie flou en half-mas nie
hierdie vlag vang die kleinste wind
en wapper met een helse gebaar op die horison

die bloed sit so na aan die keelwand
so vlak onder die vel
so warm in die oogbal
so vol in die hart
hoe kan 'n mens nou onoortuig leef en uitdruk
as die bloed die heeltyd pols
en elke dag nie vra om jou aan die lewe te hou nie
maar dit eenvoudig net doen

ek moet nie vergeet nie:
skryf na aan die bloed
na aan die klop
na aan die hart
na aan die vlees
want dit alles
suis en dreun met soveel hartstogtelike lewe
dat, waaragtig, ‘n onoortuigde lewe
'n onwillige hart
'n lafhartige gees
en 'n lui lyf
net nie die antwoord is op
die wonderlike rite van asemhaling nie

1 comment:

  1. Pragtig! Pragtig! Pragtig!

    ReplyDelete