Wednesday 4 February 2015

dolosgooier van ‘n gedig

I

die ambisie van die gedig is so indringerig
dit laat my nie toe om oor te
gee aan ‘n sukkelary nie
so 'n waaragtige astrante houding
het hierdie woordkuns!
ek probeer my skaar met
‘n hardvogtigheid
probeer anderkant toe kyk
maar nee! die kleine lettertjies
kom sit met alle mag
so grieselig in my kop
en kom lek hier by my vingers uit


II

ek het al vir jare die voorgevoel gehad
dat hierdie gedig haar verskyning gaan maak
meer as ‘n verskyning
is dit ‘n harlekinade
met al die gekskeerdery en geverfde gesigte
ek weet nie wie spot met wie nie!
dit is asof ek kompeteer
met my sinne in die verspring-pit
die stof spat al om ons enkels
maar ons wedywer vurig met mekaar
beide wil die ander een ver uit-spring


III

die kuilvoer word so gistig en suur in my kop
selfs die blêrende skape in
my stompe en passiewe gedagtegang
wil nie eet daaraan
ek kyk verlief na die moepel
en lê my warm lyf teen sy stam
“hoe wild en vry groei jy nie!”
en so dompel die natuur my in die romantiek
van haar polsende hart
ek pluk verwoed al die wilde-als
al om my enkels en
kook dit op in ‘n swetende en swetsende tee
selfs die kakkerlakke laat vaar hulle
alewige geskarrel en kyk my verbyster
aan hoe ek die bitter van die als in my keel
afstort
inderdaad – hierdie passie om kruie-gesond te leef
is vir meeste doemwaardig
hulle dink die pluk van blare is meer grusaam
as die moordpleeg van bloed en siel-diere
aai, sekere idee’s moet net in die son
bly lê en verskrompel

IV

die dae se skarniere verslyt
met elke sonsopkoms
maar die gedig bly om die dolosse te gooi
hardnekkig in haar gewoonte om
hier in my nek te blaas
as gedigte maar ‘n blywende effek kon blaas
en die koersskommeling tot ewige stilstand ruk
sal ons dalk koebaai sê vir
die weghardloop-verbeelding van geld

V

die dolosse ontaard in vonk-proppe
wat mekaar begin jaag in
die hippodroom van my kop
hulle begin lyk na artisjokke op hitte
as daar maar ‘n hofmaarskalk was
wie ek kon roep wat vir my in die bresse kon tree
maar, nee, ek is op my eie

VI

ek gaan skaar my by die vrouens in die harem
en vra hulle of hulle ook so verlei word deur die Woord?
nee, sê hulle, maar hoekom probeer jy
nie ‘n ontwapeningsveldtog nie?
haai, ek het nooit daaraan gedink nie
die geheim van hierdie driftige aanteel van woorde
deel dieselfde lankmoedigheid aanwesig in stalaktiete
‘n stille, onopmerklike groei
hoe kan ek hulle nou ontwapen?
wat is die wapen wat ek voel op my geteiken is?
ek gee moed op
ek gaan slaap met ‘n ellelange hanglip
en hoop die aand gooi nie
nog dolosse in my half-wakker drome nie
al wat ek kan doen is om op my tande te byt
en te hoop niemand sien my dolsinnige gryns raak
een greintjie van ’n  kyk in my rigting
sal jou in ‘n sout-pilaar verander
al hoe ek hiermee leef is om deur die dag so
hiperbeleef as moontlik te loop
iewers sal die gedigte se gedrag raffineer
met my invloed
en die harlaboerla van hulle ledemate en tonge
tot orde roep
en soos die moeder-owerste sal ek hulle
siele deur ‘n ring kan trek
so netjies en heilig sal hulle voor my staan

VII

teen hierdie tyd sal die gedig
die stadsvryheid verdien
en vry deur die strate wals
en enige kafee inloop en homself knuppeldik
aan die atjar eet
die burokrate sal met nuut-ontdekte ywer
die verse se skoene poets
en die posmeester sal teen geen tarief 
die digkuns aan elke lid van die wêreld pos
nodeloos om te sê
die poësie sal ‘n groot hawiksneus groei
en homself luid op die skouer klop
en trots elke kruiwa vul met leestekens en sillabes
en die bakstene en sement vervang met dit
wat meer sin maak
met die gedig se pralery
sal hy homself oortuig dat hy
skuiling en warmte kan bied vir die massas

VIII

en so gooi die gedig haar dolosse
selfs in die aspidistras en krisante
dit help nie ek is ‘n suurknol
vier fees saam met die verse se
brutale parmantigheid
ek kan seker net gulhartig daarvan afkom
dit help nie om hulle misbaksels te noem
of die hoof-inhoud van my ontlasting nie
laat ek eerder bieg dat hulle soos
pypkaneel en die geelste borrie
goed is vir die selle
elke dag wiegel hulle voor my oë
met hulle volywerigheid
hard aan die werk om
my uit te daag met die beste van
harsinggimnastiek

No comments:

Post a Comment